In die huidige ekonomiese klimaat sukkel selfs gesinne waar albei ouers teenwoordig is om die mas op te kom. Hoeveel te meer die las vir enkelouers waar daar nie noodwendig die steun van ’n lewensmaat is waarop staatgemaak kan word nie.

Lees ook: Oorlewingswenke vir ouers

Hier word nie net na finansiële steun verwys nie, maar ook daardie gaping om gehaltetyd met jou kind deur te bring terwyl jy ook so af en toe ’n noodsaaklike herlaaityd vir jouself kan inruim.

Vir sommige enkelouers kan dit ’n nagmerrie wees om die rol van teenwoordige ouer en versorger na die beste van hul vermoë te vervul. Soms flikker die fisieke en emosionele uitbrand-gevaarliggies te laat, maar hier is ’n paar wenke om te keer dat dit met jou as enkelouer gebeur.

Skuif vir eers al jou gedagtes en planne opsy om die huis netjies te maak, kos voor te sit, speelgoed te help bêre, jou kind of kinders deur die bad te jaag, hul huiswerk na te gaan en wat ook al nog kan plaasvind in die tyd dat jy self uitgeput ná ’n lang werkdag tuiskom.

Dis tyd om ’n paar nuwe gewoontes aan te leer.

Wees meer teenwoordig met jou kind. Ons hoor al die sug: “Maar ek probeer; ek het net nie genoeg kans/energie/kennis nie.”

Begin deur jou selfoon, skootrekenaar of tablet neer te sit. Los vir eers die opwasbak en vergeet van die wasgoed.

Lees ook: Dié tien wenke sal jou lewe aansienlik makliker maak

Dit kan dalk een van die moeilikste gewoontes wees om te verander, maar dis die moeite werd om aan te leer. Maak oogkontak met jou kind, nie met jou selfoon nie. Moenie net ‘uhm’ en ‘aah’ nie. Ruim tyd in en luister na wat jou kind sê. Dit sal help om positiewe energie in jul verhouding te vestig.

Hersien jou wasgoedroetine

Stel dit op die proef: Staan soggens bietjie vroeër op en plaas ’n lading in die wasmasjien voor jy jouself begin regkry vir die dag. Teen die tyd dat jy klaar gestort het, ontbyt gemaak het en ’n kosblik gepak is, behoort die wasgoed reg te wees vir ophang of die tuimeldroër.

Knip ’n uiltjie

Dit kan moeilik wees tydens jou werkweek, maar werk ’n kort slapie iewers in jou naweekroetine in. Dis verkwikkend en help jou om ’n bietjie af te skakel voor die volgende uitdaging opduik.

Maak jouself ’n prioriteit

Dis dalk een van ons grootste uitdagings. Mense is oor die algemeen daarop ingestel om te sorg en te voorsien – vir ander. En wanneer ’n kind of kinders betrokke is, sal menige ouer dieselfde sê: “Ek stel my kind eerste.”

Maar stop gou vir ’n oomblik voor jy dit vir altyd en ewig glo. As jy nie goed genoeg na jouself kyk nie, is uitbranding jou voorland. Wie gaan dan nou jou kind kyk? Wanneer jy goed en energiek voel, sal jy en jou kind se verhouding daarby baat vind.

Goeie rolmodelle is altyd ’n bonus

Maak seker jy en jou kind het gereeld kontak met mense wat jy as ’n goeie rolmodel beskou, iemand met ’n goeie waardestelsel wat ’n opbouende invloed op jou kind sal uitoefen.

Moenie ’n rolmodel met ’n lewensmaat verwar nie. Vir sommige is rolmodelle sportmense wat presteer ten spyte van gestremdhede of moeilike grootwordjare. Vir ander is dit die wyse buurman of –vrou wat altyd byderhand is met uitstekende raad en wat ’n voorbeeld stel.

Moenie kop verloor wanneer jy nie iets kan beheer nie

Wanneer daar wel ’n tweede ouer is, maar hy of sy is nie juis betrokke by jul kind nie, is dit nie jou probleem nie; dis die ander ouer s’n. Spits jou liewer toe op dit wat jy wel kan beheer en watter soort ouer jy vir jou kind kan wees.

Wees konsekwent met dissipline

Kinders beproef graag die perke van goeie gedrag. Maar dis ook waar dat hulle beter voel wanneer hulle weet wat van hulle verwag word. Maak dus seker dat jy konsekwent is met dit wat mag en nie mag nie.

Vra om hulp

Elke liewe mens het soms “my tyd” nodig, enkelouers inkluis. Jou familie en vriende sal (en behoort) dit te verstaan.

Vra gerus of iemand jou kind vir ’n tydjie, dalk selfs vir ’n aand, sal oppas terwyl jy iets doen wat jy graag sou wou, as jy die tyd gehad het. Dit kan van ’n lekker lang bad met ’n boek in die hand tot ’n fliekaand met vriende of ’n pamperlangsessie in ’n salon wees.

Moenie huiwer om ’n helpende hand te aanvaar nie.

Hou jou humeur in toom

Dis maklik om kwaad te raak wanneer jy heeltyd onder druk is om die enigste ouer en versorger te wees.

Daar is nie ’n ander grootmens in die omgewing met wie jy kan stry nie.

Belangrik: Moenie begin gil nie. Dis sleg vir jou selfbeeld en allermins goed vir jou kind. Tel liewers tot 10; selfs tot duisend as jy moet. Julle sal almal sal soveel beter voel daarna.

Verskaf eerlike antwoorde

Daar bestaan geen twyfel nie – jou kind gaan ongemaklike vrae vra wat jy nie noodwendig sou wou antwoord nie. Moenie ompaadjies loop nie. Verskaf antwoorde openlik, eerlik en gepas vir jou kind se ouderdom.

Klop jouself op die rug

Trots op iets wat jou kind bereik het? Dalk het hy sy eerste woorde geskryf of jou trots gemaak toe hy sy speelgoed met maters deel. Geniet dit, erken dit, vier dit.

Bronne: ewn.co.za, huffingtonpost.com, netmums.com, parenting.com, parents.com

Saamgesel deur Annelene Oberholzer

Ander stories op Huisgenoot.com

Pa kom met desperate plan vorendag om sy identiese tweeling van mekaar te onderskei

Die lelikste en mooiste: Oscar-rokke wat wenkbroue lig

Hartseer nuus vir Thys die Bosveldklong

Kankerlyer vertel roerend: ‘As dit nie vir die baba was nie, sou ek nooit van die gewasse uitgevind het nie’