Dis geen geheim dat kinders vandag ongelooflik baie huiswerk kry nie. Hier is vyf voorstelle vir wanneer jy ’n slag wil ontspan (nadat jou huiswerk klaar is, natuurlik):

  1. Oefen. Of jy gaan draf, fietsry, dans, gim, swem, rugby speel of op jou jogamatjie ontspan, maak net seker jy kry die een of ander soort oefening. Dis goed vir jou liggaam en gemoed en sal ’n spul endorfiene vrystel wat jou goed laat voel.
  2. Lees. Ontvlug na ’n verbeeldingswêreld. Dit sal jou tydelik help ontsnap van skoolstres en jou meer van jouself en die wêreld leer.
  3. Kook. Help jou ouers in die kombuis terwyl hulle aandete berei. Of nog beter, bied aan om vir die gesin aandete te berei en laat jou ouers ’n slag ontsnap.
  4. Organiseer. Sit jou aantekeninge netjies weg, kyk dat alles op dreef is vir daardie groot taak en raak ontslae van onnodige gemors.
  5. Speel. Onthou jy hoe lekker dit kleintyd was? Die tyd het stilgestaan en jy was verlore in jou eie wêreld. Leer om weer so te speel en met nuwe oë na die wêreld te kyk. Sit buite met jou troeteldier, pluk blomme vir jou ma, lê op die gras en kyk hoe die wolke verbysweef.

- Megan Bursey