Fokus jy op jou selfoon of jou baba?

Main

EK IS seker jy’t dit al gesien: ’n ma in ’n koffiewinkel, haar baba in die stootwaentjie langs haar. Baba staar liefdevol na ma en ma staar ewe intens na . . . haar slimfoon. Dis ’n toneeltjie wat hom voortdurend afspeel, in my wêreld en in joune, en eintlik kan dit net so goed ek of jy wees.

Dis wat ek 2D-ouerskap noem: Ma staar na haar foon, haar kop is myle ver en sy luister met net een oor na haar baba. Haar fokus en sintuiglike aandag is nie in die oomblik nie en glad nie by haar baba nie. Sulke tweedimensionele ouerskap neem die helfte van die ervaring vir jou baba weg. Op ’n sintuiglike en emosionele vlak kry sy net nie die hele prentjie nie.

As jy nou ineenkrimp, moenie bekommerd wees nie – ek krimp net so ineen. Maar dit voel nie reg nie – die gedagte aan ’n baba wat haar ma se aandag soek en ma wat nie beskikbaar is nie.

Die wetenskap vertel ook hoe sleg dit vir babas is. Die Amerikaanse sielkundige dr. Edward Tronick het proewe gedoen wat hy die Still Face Experiments genoem het, waar ma’s wat normaalweg op hul babas reageer skielik ophou en hul gesigte geen emosie wys nie. Dit maak die baba heeltemal deurmekaar en as dit oor ’n lang tydperk plaasvind (byvoorbeeld as ma baie depressief is), kan dit rampspoedige emosionele gevolge vir haar baba hê.

As ons ons eerder met tegnologie as met ons baba bemoei, ervaar ons baba dit as ’n “stil gesig”. Dis om verskeie redes ongewens:

  • Die baba kan ophou probeer kontak maak en haar in haar eie wêreld terugtrek.
  • Ma kan terneergedruk raak, want minder oksitosien word vrygestel. Oksitosien is ’n goedvoel-oordragstof wat vrygestel word as jy positiewe sosiale ervarings het, soos om met jou baba te speel.
  • Ma en baba bind nie so goed nie.
  • Baba ontwikkel nie taal- en ander verstandelike vermoëns nie omdat haar ma nie met haar gesels of vir haar dinge leer nie.

Die lys nadele is veel langer, maar die boodskap bly dieselfde: Ons moet versigtig wees. In ons aanlynwêreld met Twitter, SMS’e en Facebook moet ons onthou dat ware interaksie in die ware lewe plaasvind. Die ware lewe gaan voort terwyl ons in ons virtuele sosiale ruimte kuier.

Ouerskap in 3D beteken dat ons al die sintuiglike en emosionele fasette van ons baba in reële tyd beleef, met regte sintuiglike ervarings.

Sit vandag nog jou slimfoon neer en maak 3D-kontak met jou baba. Ek gaan self baie hard probeer, want vandag wil ek kontak maak, onderrig en koester. Ek wil ’n 3D-ouer wees.

- Meg Faure

Meg small Meg Faure (B.Sc OT, OTR) het aan die Kaapstadse Universiteit as arbeidsterapeut gegradueer en werk al die afgelope 13 jaar spesifiek met neulerige babas en dié met slaap- en voedingsprobleme. Sy is die eienaar van die Baby Sense-maatskappy vir wie sy babaprodukte ontwikkel en is ook medeskrywer van die boeke Baby Sense, Sleep Sense, Feeding Sense en Your Sensory Baby.

Lees Meg se vorige blogs vir Huisgenoot:

Hoe antwoord ’n mens ouers se kwelvrae?

Hoe lank moet jy wag voor baba no. 2?

4 gemengde seëninge vir nuwe ouers

6 allerbelangrike wenke vir nuwe ma’s