EN SO weerklink die vrolike gesels en gelag van leerders weer die skoolgange vol . . . en ná die eerste dag voel dit of dit nooit vakansie was nie. Vergete is die bietjie later lê as die oggende nog donker en koud is, maar ná die vakansie is ons batterye darem weer herlaai.

Hier is ’n paar wenke om jou te help om die nuwe kwartaal met geesdrif aan te pak:

  • Benader jou beroep as ’n roeping en nie net ’n werk nie. Elke onderwyser het die geleentheid om ’n verskil te maak aan leerders se lewe – en dis ’n voorreg!
  • Onthou dat daar elke periode ’n leerder of leerders in jou klas is wat jou as hul rolmodel beskou. Wees ’n goeie voorbeeld vir jou leerders in hoe jy optree, wat jy sê en hoe jy lyk.
  • ’n Positiewe houding en die begeerte om uitdagings aan te pak maak die lewe en ons werkplek makliker en beter. Ja ons het nie altyd beheer oor ons omstandighede nie, maar ons kan altyd kies hoe ons daarop reageer. Die leerders sal jou positiewe houding aanvoel en dit kan aansteeklik wees.
  • Ons almal staan soms met die verkeerde voet uit die bed uit op, maar ’n glimlag op jou gesig verdryf die donker wolke sommer vinnig.
  • Waardeer die vriendelike “Môre, Juffrou” of “Môre, Meneer” waarmee jy elke oggend gegroet word en groet vriendelik terug. Dit laat die son helderder skyn.
  • Onthou, jy is met ’n spesifieke doel op ’n spesifieke plek geplaas en die leerders maak staat op jou en het jou nodig – al voel dit soms nie so nie. Moenie jou nie vasstaar teen die een of twee moedswillige leerders in jou klas nie, waardeer liewer die 98 persent wat skoolhou vir jou ’n plesier maak!

Sterkte vir die nuwe kwartaal!

- Olga Channing

Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.

Lees ook ons ander onderwysblogs:

Ouers en onderwysers is vennote, nie teenstanders nie

Vakansietyd, vir onderwysers ook?

Is dit alles die onderwysers se skuld?

Styg uit bo gemiddeld wees!

Onderwysers – en hoofde – is ook maar net mens