Sy glo elke dag bring nuwe geleenthede om dieper te delf in die analitiese en logiese denkwyses wat Wiskunde meebring en glo sy is bevoorreg om hierdie vermoëns te bevorder onder die gesiggies wat voor haar in die klaskamer sit.

Naam en ouderdom:

Gretha Schoeman (39)

Wat en waar onderrig jy?

Ek onderrig Wiskunde vir Graad 7 by die Laerskool Louis Leipoldt in Centurion. Wiskunde is soos die poësie van logika.

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

Ek wou baie graag deel wees van die onderrig van kinders, en ek geniet elke oomblik daarvan.

Gee 3 wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig 

  1. Onderrig Wiskunde met ’n passie. Die kinders kom gou agter as jy net uit ’n boek uit klasgee.
  2. Sorg dat jou notas altyd nuut en vars is, al moet jy dit self skep of oorskryf.  Ou, voos-afgerolde notas blus die kinders se entoesiasme.
  3. Maak gebruik van tegnologie om jou kennis vas te vang, want dit bring mee dat die kinders weer na die tyd na jou verduidelikings kan gaan luister – wat absoluut noodsaaklik vir Wiskunde is.

Gee 3 wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak/graad

  1. Moet nooit die indruk wek dat jy nie onderwys as loopbaan gekies het nie. Die administrasie en ander probleme is soms oorweldigend, en mens bevraagteken soms jou keuse om onderwyser te word, maar jy werk met kinders en vir hulle is dit nog ’n ontdekkingstog waarna hulle uitsien. Probeer sover moontlik vriendelik wees – die kinders waardeer dit!
  2. Jy kan nie altyd die vak aanbied wat jy graag wil nie, maar maak die vak wat jy wel aanbied vir jou en die kinders so interessant moontlik. Enige moeite wat jy met jou voorbereiding doen maak dit net makliker om in die klas jou kennis oor te dra.
  3. Raak ook na-ure by die kinders betrokke, op sport- of kultuurgebied, sodat jy hulle ook op ’n ander vlak kan leer ken.

Wat is jou gunsteling- tegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

Scriblr-tegnologie wat dit moontlik maak om alles wat ek sê en skryf op te neem, sodat die kinders dit ná die les weer op die internet kan gaan sien.

Wat motiveer jou?

Baie vrae. Daardie kyk in die kinders se oë as hulle ’n nuwe konsep of tegniek baasraak.