Naam en ouderdom

Louis Buckle, 47

Wat en waar onderrig jy?

Wiskunde, wiskundige geletterdheid en besigheidstudie by die Hoërskool Stellenberg in die Wes-Kaap.

Wat het jy gedoen voordat jy ’n onderwyser geword het?

Daar was ’n klomp kopskuiwe in my lewe wat my tot hier gebring het. My loopbaan het in die aktuariële departement van ? versekeraar begin, waar ek geleer het dat dit beter is om ’n maatskappy te besit as om vir een te werk.

Die tradisionele korporatiewe leer het my gefrustreer, en op 26-jarige ouderdom het ek beheer bekom oor ? maatskappy wat besig was om bankrot te speel. Die maatskappy se lot is omgekeer en dit is vandag ? bedryfsleier. Sedertdien het ek in die direksies van ? paar maatskappye gedien en my sakebelange uitgebrei.

Wat ek doen, het nie verander nie. Die onderwyser-wees is iets wat bygekom het en wat ek met net soveel toewyding beoefen.

Hoekom onderwys gee?

’n Paar ervarings het my laat besef hoe sterk en vol inisiatief kinders eintlik kan wees, en ek wou deel van daardie leefwêreld word – daartoe bydra en daaruit leer. Een daarvan was toe ek ’n tandem-fietsryer in ’n span van die Athlone-skool vir blindes was. Ek was verbaas hoe baie ek van die leerders en hul toegewyde onderwysers kon leer.

’n Ander ervaring was toe ek kort ná die volksmoord in Rwanda gewoon het; ’n getraumatiseerde gemeenskap waar kinders na hulself en hul familie moes omsien. Ek het nie besef dat kinders uit hulle eie so verantwoordelik en ondernemend kan wees nie.

Ek het besef kinders moet opgevoed word om in veranderende en dikwels onregverdige omgewings te floreer. Die konvensionele logika van “gaan skool toe, verwerf ? graad en kry werk” geld nie vir die meeste kinders nie.

My ervaring as entrepreneur stel my in staat om ’n nuwe model oor te dra: Fokus op dit waarin jy regtig belangstel en verkry die nodige vaardighede sodat jy dit kan doen in ? snel veranderende omgewing. Berei jou daarop voor om ? inkomste te genereer, nie om werk te soek nie.

Gee drie wenke aan ander onderwysers:

1.                   Erken elke leerder se reg om ? mens in eie reg te wees en geniet die diversiteit eerder as wat jy eenvormigheid probeer skep.

  • Miskien sukkel party leerders in die Engels-voertaalklas omdat hul huistaal nie Engels is nie, eerder as omdat hulle dom is. Ons moet eers die terminologie verduidelik voordat ons vir hulle wiskunde leer.
  • Miskien weet die “moeilike” seun in die besigheidstudieklas beter aangesien hy al jare ’n suksesvolle onderneming bedryf.
  • Miskien hou die meisie met die tatoeëermerke bloot daarvan, eerder as dat dit op ’n hele waardestelsel dui.
  • Miskien is die groot, swart seun bloot groot en swart en hoef jy nie vir hom bang te wees nie.
  • Miskien is die uitgesproke, energieke Italiaanse meisie bloot “Italiaans” en nie luidrugtig of disrespekvol nie.
  • Miskien het die swanger meisie in die klas bloot ? fout gemaak en is sy nie immoreel nie.
  • Miskien moet ons ruimte daarvoor laat dat ons leerders van verskillende geloofsgroepe is.

2.                   Moedig oorspronklike denke en die soeke na insig en begrip aan.

  • Gebruik verskillende metodes: dit stimuleer kreatiwiteit en maak die gesprek oop.
  • Fasiliteer die self-ontdekking van metodes sodat die leerder begryp eerder as onthou.
  • Moedig leerders aan om altyd te probeer, al is dit verkeerd; hulle leer dan self waarom hul plan nie werk nie.
  • Gee erkenning aan leerders wat met ander of beter oplossings vorendag kom.
  • Fasiliteer die inhoud eerder as om dit soos eenrigtingverkeer oor te dra.

3.                   Luister na die leerder (met jou oë en ore).

  • Let op wanneer die irriterende briljante leerder skielik voor kom sit. Dit is ? leidraad dat hy/sy dalk nie die werk heeltemal verstaan nie en daarom is die res van die klas heeltemal in die duister.
  • Laat leerders toe om in die klas te praat en luister na die gesprekke. Leerders vra makliker vrae aan hul klasmaats as aan onderwysers.
  • Moedig leerders aan om die memorandum en hul punte te bevraagteken, want dit verskerp hul fokus. Dit leer hulle ook dat almal foute maak, selfs die onderwyser.
  • Moedig leerders aan om op die bord te werk. Dit gee hulle die geleentheid om hul idees op die tafel te sit en bou selfvertroue.

Watter raad het jy vir nuwe of ervare onderwysers in enige vak of graad?

  • Los jou persoonlike kwellings en kwessies tuis.
  • Behandel elke leerder met respek, veral die “moeilikes”.
  • Omarm diversiteit pleks van daarvoor bang wees.
  • Ken jou vak.
  • Wees buigsaam.

Wat is jou gunsteling-hulpmiddel in die klas?

Die internet. Die nuutste gedagtes en idees is net ’n klik of twee ver.

Wat motiveer jou as onderwyser?

Om daagliks met jong, oop breine te werk. Ek leer heelwat meer van die leerders as wat hulle van my leer.