Naam en ouderdom:

Rezel van der Merwe, 27

Wat en waar onderrig jy?

Ek onderrig Afrikaans Huistaal vir gr. 8-11 by Hoërskool Bellville. Dit is my tweede jaar in die onderwys.

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

Ek dink die onderwys het my gekies. Albei my ouers en een van my susters is onderwysers; dit is duidelik in ons bloed. My pa en Afrikaans-onderwyser op skool het ’n groot liefde vir Afrikaans by my gekweek. Ek stel belang in die sielkunde en het ook ’n groot liefde vir drama. Die onderwys was vir my ’n oplossing om die drie te vereenselwig. Ek beskou die klas as ’n verhoog en die leerders as die gehoor.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

Ek is nog baie nuut in die onderwys en sal liewer ander se wenke volg as om dit te gee, maar hier is my bydrae:

1. Moenie net poësie vir eksamendoeleindes behandel nie, maar ook om ’n liefde vir hierdie fyn kuns te kweek.  Ek het verlede jaar my gr. 9-klas vir ’n spreekkoor afgerig en daardie leerders sal nooit die mooi woorde van Antjie Krog se Stasie vergeet nie. Toe ek vanjaar op 1 Oktober weer Leipoldt se Oktobermaand lees, was dit vir my heerlik om te sien hoe leerders dit met ’n glimlag van verlede jaar herken.

2. Merk elke dag minstens een opstel. Ek dink dit is wat my die meeste onderkry. As ’n mens tale onderrig, is die merkwerk maar ietsie om aan gewoond te raak. Gelukkig is daar dikwels meesterstukke in die bodemlose opstel-put.

3. Motiveer die leerders wat potensiaal het om verder as net die skoolbanke te skryf. Daar is verskeie platforms waar hierdie leerders hul talente ten toon kan stel, soos die ATKV-kompetisies, Jip se gedigtekompetisie en die FAK Afrikaanse Ekspo.

Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak of graad:

1. Geniet dit. ’n Mens kan nie van die leerders verwag om jou lesse te geniet as dit nie vir jou lekker is nie. Geniet die klein dinge: ’n drukkie, ’n briefie, ’n sjokolade en ’n moeilike leerder wat eindelik saam met die klas vir jou flou grappies lag.

2. Kollegas. Ek is geseën met wonderlike kollegas wat baie ondersteunend is. Maak gebruik van die mense wat ondervinding het. Jy kan baie by hulle leer wat geen boek vir jou kan leer nie.

3. Wees betrokke by die skool. Wat die onderwys nog lekkerder maak, is die betrokkenheid buite die klaskamer. Op sport- of kultuurgebied kry ’n mens die geleentheid om die leerders op ’n ander vlak te leer ken. Dit is vir my ’n wonderlike platform om verhoudings te bou met die mense wat elke dag voor jou sit. Gaan kyk na die leerders se sportwedstryde of toneelstukke, aangesien dit belangrik is dat hulle weet jy stel belang in hulle as mens en nie net as sukkelende sinsontleder nie.

Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

Dit is vir my ’n vreugde om poësie of prosa deur Powerpoint aan te bied. Ek geniet dit ook om af en toe musiek te speel. Opperman se Groot Verseboek is ’n ou staatmaker.

Wat motiveer jou as onderwyser?

Mense sê dikwels as onderwyser het ’n mens die geleentheid om ’n invloed op leerders se lewe te hê, maar vir my is dit die teenoorgestelde: Die leerders vorm my. Ek het die voorreg om met talentvolle jongmense te werk wat my daagliks uitdaag, akademies stimuleer en motiveer.  Ek het ook die voorreg om kollegas te hê wat ek as vriende ag.

In vandag se lewe waar alles oor geld en sogenaamde sukses gaan, was dit aanvanklik vir my moeilik wanneer mense vra hoekom ek net ’n onderwyser wil wees. Vandag kan ek met trots sê dat ek niks anders as “net” ’n onderwyser wil wees nie.