Salomé groot

Naam en ouderdom:

Salomé Vermeulen, 47

Wat en waar onderrig jy?

Ek gee skool vir gr. 3 by die Laerskool Du Preez van Wyk op Bronkhorstspruit.

Hoekom het jy die onderwys gekies?

Omdat ek ’n passie vir kinders het en ’n bydrae wil lewer tot elke kind se emosionele, intellektuele en geestelike ontwikkeling.

Gee drie wenke vir ander onderwysers wat jou vak/graad onderrig:

  • Laat die kind wees in jou eie lewe altyd uitkom.
  • Sien die lewe deur die oë van ’n kind.
  • Kommunikeer op hul vlak en gee onvoorwaardelik.

Gee drie wenke vir nuwe onderwysers in enige vak of graad:

  • Leer elke kind op sy emosionele vlak ken.
  • Gun jouself tyd om aan te pas en word deel van elke kind se lewe.
  • Luister werklik wat kinders sê, so leer jy elke kind in sy of haar omstandighede ken.

Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om te gebruik?

My gunstelingboek is die Bybel omdat daar soveel geestelike waarhede is waarmee ek kinders kan toerus vir die lewe.

Wat inspireer jou as onderwyser?

’n Glimlag en dankbaarheid op ’n kind se gesig. Om te kyk na kinders se lewe wat jare gelede in my klas was, en te besef ek het ook ’n verskil in hul lewe gemaak en kon waarde tot hul lewe toevoeg.

Vertel kortliks van jou ervaring by die wêreldatletiekbyeenkoms in Brasilië waaraan jy onlangs deelgeneem het.

Ek het op 16 Oktober vanjaar na Brasilië vertrek om aan die Wêreld-meestersbyeenkoms in Porto Alegre te gaan deelneem.

Ná ’n uitdun in die 800 m het ek deurgedring tot die 800 m-eindstryd.  Die senuwees het geknaag, maar ek het geweet ek het hard geoefen en sielkundig was ek baie goed voorberei.  Ek was ongelooflik trots om my skool, dorp en land daar te verteenwoordig. Ek was ook ongelooflik dankbaar en nederig teenoor ons hemelse Pappa vir die talent en die geleentheid om daar te kon deelneem. Ek het eerste oor die wenstreep getree en toe besef ek, ek is die wêreldkampioen in die ouderdomkategorie 45-49.

[caption id="attachment_58496" align="aligncenter" width="210"]Salomé op die atletiekbaan Salomé op die atletiekbaan[/caption]

Vyf dae later het ek ’n tweede plek in die 1500 m behaal. Toe ek terugkom by die skool, het ek ’n heldeontvangs gekry: Ek is die oggend ingewag deur ons skoolhoof, Erhard Kruger, personeel en Dupiekinders wat ’n erewag gevorm en Suid-Afrikaanse vlaggies laat wapper het. Ek voel soos ’n ware wêreldkampioen, tevrede en gelukkig.