Naam en ouderdom:

Cindy Harris (38).

Waar en wat onderrig jy?

Ek is die vakhoof vir wiskunde by die Hoërskool Westering.

Hoekom het jy onderwys as beroep gekies?

Nadat ek my B.Sc.-graad voltooi het, het die idee dat ek ’n verskil in jongmense se lewe maak, my gefassineer; ek was ook effe obsessief daaroor. Ek het besluit om hierdie passie na te volg en het my onderwysdiploma voltooi.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

  1. Bly altyd positief, al voel jy jy wil tou opgooi. Onthou, jy het ’n verpligting teenoor jou leerders.
  2. Raak betrokke by soveel buitemuurse aktiwiteite moontlik; die kinders is dol daaroor wanneer jy hulle ondersteun.
  3. Jy moet oefen en gesond bly. Onderwys gee is ’n veeleisende werk; kyk mooi na jouself!

Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak of graad:

  1. Gryp elke geleentheid aan waar jy iets kan leer. Raak betrokke by buitemuurse aktiwiteite; neem die leisels by ’n sportsoort of -geleentheid.
  2. Dra oulike idees by by enige aktiwiteit waarby jy betrokke is.
  3. Woon soveel seminare en ontwikkelingskursusse moontlik by. Maak daardie CV vol!

Wat motiveer jou?

My leerders motiveer my volkome. Wiskunde is ’n moeilike vak en niks moedig my meer aan as ’n leerder wat presteer nie. Van die toppresteerders tot dié aan die onderkant van die leer: Niks klop ’n leerder wat toegewyd werk en hul doele bereik nie! Ek is so geroer wanneer ’n matrikulant terugkom en sê ek het ’n impak op hul lewe gemaak.

Is jy dalk Huisgenoot se volgende Kopskuif-onnie? KLIK HIER vir meer inligting oor hoe om in te skryf en wat jy en jou skool alles kan wen.

LOGOSvir web