Naam en ouderdom:

Marzane Meyer, 28.

Wat en waar onderrig jy?

Ek onderrig rekeningkunde, ekonomie en besigheidstudies  vir gr. 10 tot 12 en ekonomiese bestuurswetenskappe vir gr. 8 en 9 by die Hoërskool Linkside in Port Elizabeth.

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

Ek wou nog altyd met hoërskoolkinders werk en my liefde vir my vak (rekeningkunde) het perfek gewerk. Nadat ek baie betrokke was by die kerk, stranddienste en Die Voortrekkers, het ek geweet ’n kantoorwerk sal my nie gelukkig maak nie. Ek het beslis reg gekies.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

1. Probeer elke dag se wêreldgebeurtenisse van die periode deel maak. Luister dus op pad skool toe radio en kyk wat in die nuus gebeur; jy is dalk die kinders se enigste bron van inligting en kweek dalk ’n belangstelling by hulle.

2. Met leervakke soos besigheidstudies en ekonomie wat uit bladsye en bladsye leerwerk bestaan, is dit belangrik om die tegnologie te gebruik en voorbeelde op leerders se vlak in die les in te sluit.

3. Rekeningkunde word altyd as baie moeilik beskou; ek verduidelik alles op die bord sodat leerders die werk kan sien. Ek het ook oor die afgelope paar jaar geleer daar is meer as een manier om iets te interpreteer. Om te luister (met jou oë en ore), al is daar baie oefeninge en ’n vol sillabus, is die moeite werd.

Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak of graad:

1. Wees net jouself. Wys wanneer jy gelukkig, hartseer of teleurgesteld is.

2. Gee om en stel opreg belang. Gee komplimente, maar help ook reg en stel grense.

3. Wees georganiseer en beplan elke dag. Niks so sleg soos ’n deurmekaar klas of tafel nie. Maak lysies, skryf neer en onthou wat jy ander belowe.

Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

Elke dag se koerant (soos Die Burger); dit is so lekker dat leerders nou al vir my vra wat op bladsy 3 gebeur of wat ek van die brandstofprys dink. Ons gebruik tablette en dataprojektors in die klas. Ons is ook gelukkig om internet in die klaskamers te hê; as ek dus ’n YouTube-video wil gebruik, is dit net die druk van ’n knoppie vêr.

Wat motiveer jou as onderwyser?

Om elke dag te weet jy is nie te oud om te leer nie (veral by leerders en ouer kollegas), glimlagte, opregte liefde en die kennis dat ek elke dag in ten minste een kind se lewe ’n verskil maak. En natuurlik skoolvakansies!