Naam en ouderdom:

Kenneth Woodward (29)

Wat en waar onderrig jy?

Ek is tans waarnemende departementshoof by Laerskool Welgemoed in Bellville, Kaapstad. Ek dien in ons skool se dagbestuur, bestuur die fisiese geriewe en instandhoudingportefeulje van die skool, is hoof van rugby en krieket en onderrig wiskunde, natuurwetenskappe (vakhoof), lewensvaardighede en Afrikaans addisionele taal in gr. 5 en lewensvaardighede in gr. 6.

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

Onderwys is ’n loopbaan wat jou as mens holisties verbeter en is vir my ’n platform waar ek al my belangstellings kan uitleef. My liefde vir nuwe dinge leer, sport, musiek en om myself te verbeter is al op skool aangewakker danksy uitstekende geleenthede en onderwysers by Worcester-gimnasium. Ek wou graag ’n verskil in kinders se lewe maak en daardeur ’n optimale leeromgewing vir hulle skep waar leer kan plaasvind.

Gee 3 wenke aan ander onderwysers wat in dieselfde leerarea as jy onderrig:

  • Wees altyd voorbereid! Kinders kom vinnig agter as jy self nie weet wat aangaan nie.
  • Soek gedurig maniere om jou vak se inhoud en aanbieding te verbeter.
  • Moenie die pret-element van skool gee vergeet of weglaat nie! As jou les selfs vir jou vervelig raak, dink net hoe voel die kinders. Kry dus maniere om na belangrike konsepte of inhoud die leerders se konsentrasie weer te behou deur tydelik af te wyk van jou werk. Werk hard, speel hard! J

Gee 3 wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak/graad:

  • Raak betrokke! Dit is die vinnigste om jou skool, graad en kinders beter te leer ken.

  • Moenie bang wees om te vra nie. Mens wil dikwels laat voorkom dat jy alles weet, maar steek maar jou trots in jou sak en vra wanneer jy nie iets weet nie of net raad soek.
  • Moet ook nie bang wees om jou mening oor iets te lig nie, en staan op vir jouself. As jy ’n beter idee of meer oor ’n spesifieke saak weet, deel dit met ander op ’n professionele manier en moenie hoogmoedig daaroor wees nie.

Wat is jou gunstelingtegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

My gunsteling tegnologiese toerusting om in die klas te gebruik is my tablet en die platskerm-TV. Ek laai my handboeke (dié wat digitaal beskikbaar is) op my tablet sodat ek nie soveel boeke hoef rond te dra nie. YouTube en Prezi is my gunsteling-aanbiedingsprogramme. My skootrekenaar is natuurlik ook ’n gunsteling.

Wat motiveer jou?

My vrou, dogtertjie en die ou gesegde van alle onnies . . . om ’n lewenslange leerder te wees. Winston Churchill het gesê: “Don’t be prepared to be a chip off the old block . . . be the block itself.” Ek sal graag die beste wil wees wat ék kan wees, en sal nie die tweede beste aanvaar as ek bo kan uitkom nie.

God is baie naby aan my hart en deur musiekbediening (ek en my vrou skryf gospelmusiek en ek is ’n bedieningsleier) beleef ek daagliks sy grootheid.