.

Naam en ouderdom:

Madelein Luttig (36)

Wat en waar onderrig jy?

Ek is ’n gr. 2-onderwyseres by die Riverside College in Burgundy Estate, naby Kaapstad.

Hoekom het jy onderwys as jou loopbaan gekies?

Ek het dit as my beroep gekies omdat ek mal is oor gesels, en ek put baie genot daaruit om iemand iets te leer of te verduidelik.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig

  1. Gebruik drama of toneelspel om leerders ’n storie te help verstaan. Dit help veral vir Huistaal of begripswerk by Eerste Adisionele Taal.
  2. Gebruik voorwerpe om wiskunde-werk aan die leerders oor te dra.
  3. Laat die leerders hulself help leer; betrek hulle by jou lesse.

Gee drie wenke aan enige nuweling-onderwysers

  1. Maak seker jy ken jou vakgebied baie goed.
  2. Bou ’n positiewe verhouding met jou leerders.
  3. Toon empatie aan leerders wat dit nodig het.

Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

My gunsteling-webtuistes wat ek vir werkbladsye gebruik, is Sparklebox en e-classroom. Daar is fantastiese idees vir onderwysers op hierdie twee webtuistes. My gunsteling-boeke vir die leerders is The Gruffallo, We’re Going on a Bear Hunt en The Cat in the Hat.

Wat motiveer jou as onderwyser?

Die lekker gevoel wanneer jy sien leerders geniet wat hulle besig is om te leer, en dis ook lekker as hulle dit nog weke later kan onthou!