Naam en ouderdom:

Frans Kalp (44).

Wat en waar onderrig jy?

Ek is die adjunkhoof by die Ligbron Akademie vir Tegnologie in Ermelo, Mpumalanga. Ek is verantwoordelik vir die opleiding van onderwysers en leerlinge in rekenaargeletterdheid by Ligbron. Ek bied ook opleiding in die nuwe elektroniese klaskamer-, tegnologie- en huidige e-leerstelsels. Ek ondersoek en implementeer nuwe e-leerstelsels by Ligbron en ondersteun onderpresterende skole in en om Ermelo.

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

Onderwys is my passie. Om met kinders te kan werk was nog altyd vir my groot pret, maar dit is natuurlik ook ’n uitdaging omdat jy nie net met die kind in sy skoolomstandighede werk nie, maar ook met sy huislike omstandighede en tienerprobleme. Dit was die afgelope agt jaar vir my ’n groot voorreg om ’n nuwe era in die onderwys te betree met die koms van nuwe klaskamertegnologie in die vorm van die SMART interaktiewe witborde. Saam met die SMART-borde het daar ook ander nuwe tegnologie soos mobiele toestelle, skootrekenaars en tablette die mark betree. Dit is ’n nuwe uitdaging om hierdie tegnologie in ons eie skool te implementeer en ook om maniere te vind waarop ons dit kan gebruik om die skole met minder hulpbronne te betrek.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

  1. Skep  ’n onderrigsomgewing waar ondersoek en navorsing die norm is. Laat ruimte vir leerders (en onderwysers) om selfonderrig te doen.
  2. Studente hou daarvan om hul werk met mekaar te deel; daarom is dit belangrik om opdragte so te beplan dat leerders hul werk met hul klasmaats kan deel. Laat vakonderwysers toe om hul kennis in ’n opleidingsessie met ander onderwysers te deel, hetsy vakgerigte sagteware of nuwe klaskamertoestelle en -praktyke.
  3. Hedendaagse tegnologie is ’n baie goeie trekpleister om leerlinge by die lesaanbieding te betrek. Onderwysers kan met goeie beplanning en innoverende denke ’n baie suksesvolle les aanbied met die gebruik van byvoorbeeld selfone, rekenaars of tablette.

Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak of graad:

  1. Goeie dissipline is ononderhandelbaar in die klaskamer. Tree ferm op en respekteer elke leerling.
  2. Vra die gesoute onderwysers in jou skool vir ondersteuning en ruil idees uit. Daar is soveel diverse leerders in vandag se klasse en almal se leerbehoeftes verskil. Jou kollegas is in dieselfde omgewing en skoolkonteks as jy en het dalk ’n soortelyke probleem gehad. Moenie huiwer om hul raad te vra nie.
  3. As onderwyser moet jy altyd professioneel optree en onthou dat jy ’n kind kan maak of breek deur dit wat jy vir hulle sê. Jy is baie leerlinge se rolmodel; moet hulle nie deur jou optrede teleurstel nie.

Wat is jou gunstelingtegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

Beslis ’n SMART interaktiewe witbord. Dit kan natuurlik ’n wit olifant word, maar die wenresep is innoverende lesse met YouTube-video’s, foto’s, driedimensionele voorstellings en verwysings na webtuistes. Die SMART-bord is nie net vir die onderwyser ’n hulpmiddel nie – die leerlinge moet deurentyd na die bord kom en deelneem aan die les. Dit hou hulle gefokus.

Wat motiveer jou as onderwyser?

’n Positiewe en nederige mens is ’n gelukkige mens, en dit motiveer my om nog meer te doen vir die mense om my.