Naam en ouderdom:

Mmipe Mokgehle (57)

Wat en waar onderrig jy?

Ek is die onderhoof van die Laerskool Toronto in Mankweng, Limpopo. Ek onderrig ook inligting-en-kommunikasietegnologie (IKT).

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

My ouers het daarvan gedroom daqt ek ’n onderwyser moet word, maar die onderwys was nie my eerste keuse vir ’n loopbaan nie. Ek het die onderwys betree om my ouers tevrede te stel. Ek het ’n passie vir tegnologie en deel graag dié kennis met ander.

Gee 3 wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

  1. Wees passievol oor jou vak – dit bemagtig mense.
  2. Leer jou studente IKT is ’n vaardigheid waarop jy kan terugval, maak nie saak wat gebeur nie.
  3. Deel jou kennis met ander, veral ander onderwysers. Wanneer jy die onderwyser bemagtig, bemagtig jy die nasie.

Gee 3 wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak/graad:

  1. Wees streng, maar benader jou leerders en kollegas met liefde en respek.
  2. Benader die onderwys met passie.
  3. Werk hard en doen alles in jou vermoë om tot die ontwikkeling van jou skool en gemeenskap by te dra.

Wat is jou gunstelingtegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

Ek glo dat rekenaars en tegnologie mense bemagtig. Daarom het ek hard gewerk om die toekoms van meer as 20 000 kinders in Limpopo te verander deur te reël dat 49 skole in die Mankweng-groepering van die Capricorn-disktrik elk 21 rekenaars met drukkers gekry het.

Wat motiveer jou (as onderwyser)?

Ek voel my doel in die onderwys is nog nie heeltemal vervul nie. Ek sou graag ’n skootrekenaar per leerder wou sien. Ek gaan nie op pensioen voor ek dit bereik het nie.

Uit: Huisgenoot 26 Desember 2013