Ons onnie van die week gee klas by ’n hospitaalskool. Om daar ’n onderwyser te wees beteken jy is ook ’n ouer, broer en maatskaplike werker; jy moet jou leerders hoop gee.

Naam en ouderdom:

Stephen Pheeha (43).

Wat onderrig jy?

Ek gee Sotho vir leerders van gr. 1 tot gr. 9 en sosiale wetenskappe vir gr. 4-, gr. 5- en gr. 6-leerders. Ek onderrig ook Sepedi van gr. 4 tot gr. 7 by die Hospitaalskool in Parktown, Johannesburg.

Hoekom het jy onderwys as beroep gekies?

Op ’n jong ouderdom het ek al my liefde vir die onderwys besef. Wanneer my ouers bedags gewerk het, het ek my jonger broer tuis onderrig.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

  1. Onderrig by ’n hospitaalskool beteken jy is meer as ’n opvoeder; jy is ook ’n ouer, broer en maatskaplike werker.
  2. Jy moet jou leerders hoop gee. Laat hulle besef hulle is steeds geliefd, ongeag watter siekte hulle het.
  3. Berei jou leerders voor sodat hulle verstandelik en emosioneel gereed is om kennis in te neem – spits jou toe op hul individuele behoeftes.

Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak of graad:

  1. Onderwys moet uit die hart kom. Wees geduldig, vasbeslote en luister na wat elke leerder se behoeftes is.
  2. Die dae dat die onderwyser alleen praat, is lank nie meer met ons nie. Jy sal dikwels moet ophou praat en na jou leerders luister. Ontdek hul onderliggende idees en ontwikkel dit.
  3. Probeer jou leerders se potensiaal identifiseer. ’n Toekomstige dokter, prokureur, maatskaplike werker sit dalk in jou klas. In werklikheid is dit baie moeilik vir ’n onderwyser om dié potensiaal raak te sien, maar dit gaan die manier uitdaag waarop jy jou leerders lei.

Wat motiveer jou?

My liefde vir die kinders, en hoe hul kop werk, fassineer my. Ek probeer altyd iets by hulle tuisbring, maar daar is dae dat jy voel dit werk nie; jy voel dit is net te veel. Dan gaan sit net en herinner jouself dat God ’n doel het en dat dit sy roeping is in jou lewe. Doen wat jy moet doen – wees sterk.