Naam en ouderdom:

Konrad Toerien, 26.

Wat en waar onderrig jy?

Ek gee natuurwetenskappe, tegnologie, wiskunde en lewensoriëntering vir gr. 3 en gr. 5 by die Laerskool Vredenburg.

Hoekom het jy die onderwys as loopbaan gekies?

Ek hou van skoolvakansies! Ek grap sommer net. Ek geniet die interaksie met die kinders. Die grootste rede is dat ek gesien kinders het ál minder waardes. Met positiewe en die regte onderrig, glo ek, kan ons die leerders weer waardes aanleer en ook leer hoe om van hul lewens ’n sukses te maak.

Gee drie wenke vir ander onderwysers wat jou vak/graad onderrig:

  • Wees interessant. Bied klasse aan wat steeds by die sillabus hou, maar ook die kinders sal boei.
  • Tegnologie is tot jou beskikking – gebruik dit!
  • Bly positief, veral as die leerders iets goed doen. Prys die kinders wat dit verdien.

Gee drie wenke vir nuwe onderwysers in enige vak of graad:

  • Glimlag eers ná Paasnaweek. Dit het ek by ’n wyse juffrou, juffrou Blom, geleer toe ek nog op skool was.
  • Wees streng, maar steeds verdraagsaam. As jy aan die diep kant ingegooi word, vra hulp om te leer swem.
  • Vra as daar probleme is en pak take met passie aan.

Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om te gebruik?

Talle van my leerders sal sê wat ek gereeld in die klas ook sê: “Google dit!” Ons leef in die inligtingsera; inligting is tot almal se beskikking.

Wat spoor jou aan as onderwyser?

Ek is betrokke by atletiek en dit spoor my aan om deel te wees van die atlete se sukses. Die eindproduk is die moeite werd, veral wanneer hulle ná skool vir jou kan sê dis te danke aan ons afrigters.

Shané Barnard