.

Naam en ouderdom:

Eriné Botha (27).

Wat en waar onderrig jy?

Gr. 3 by die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremde leerders.

Hoekom het jy onderwys as loopbaan gekies?

Daar is ’n paar redes – dit het soos die stukke van ’n legkaart inmekaar begin pas terwyl ek my loopbaankeuse moes maak. Ek het nog altyd ’n ongelooflike liefde vir mense (spesifiek kinders) gehad, en het aanvanklik medies gaan studeer. Terwyl ek eendag besig was om ’n chemietoets te swot, vir het my nefie (hy het Down-sindroom) na my toe gekom en gevra ek moet aan hom verduidelik wat ek doen. Net daar het ek besef ek wil skoolhou – meer spesifiek by ’n skool waar leerders meer ondersteuning nodig sal hê. En dan is onderwys natuurlik in my bloed.

Gee drie wenke aan ander onderwysers wat jou vak onderrig:

  • As ’n kind ’n konsep nog nie bemeester het nie, moet jy nie aangaan na ’n volgende konsep of moeiliker variasie nie. Ons is grondslagfase-onderwysers; daarom moet ons seker maak die kind bemeester hul basiese konsepte.
  • Werk visueel, taktiel en ouditief. Speletjies en stories is ’n wonderlike medium waardeur kinders leer.
  • Leerders moet aktief by die leerproses betrokke wees. Moenie net voor in die klas staan en ’n som verduidelik nie. Laat elke kind hul eie strategieë ontwikkel en aan die klas voorlê. Dit is altyd verstommend om te sien hoe hulle aan mekaar verduidelik, mekaar reghelp en so ook ’n beter begrip kry van wat om te doen.

Gee drie wenke aan nuweling-onderwysers in enige vak of graad:

  • As jy entoesiasties is oor die werk, sal die leerders ook entoesiasties wees oor die werk.
  • ’n Klaskamer en ’n skool is plek vir leer en groei – en jy is daar om hierdie taak te verrig. Moet nooit sig verloor van hoekom ’n kind in die skool is en hoekom jy daar is nie.  Dis hoekom jy altyd die kind veilig moet laat voel.
  • As jy in ’n kind glo, al lyk dit aanvanklik asof hulle die swakste in die klas is, sal hulle jou verwagtinge oortref. Daar is ’n aanhaling wat sê: “Every child is a genius, maybe just not on the same day or the same time.”

Wat is jou gunstelingtegnologie of -boek om in die klas te gebruik?

Ek geniet Superteacher.com, Sparkle box en education.com. Nog wonderlike leermiddels is die Trumpeter-reeks. Dit het kindervriendelike werkblaaie en is aangepas vir Caps.

Dan doen ek een keer per week ouditiewe persepsie- en visuele persepsie-oefeninge met hulle. Dit is wonderlik vir hul leer- en leesvermoë en hulle geniet dit vreeslik. Vorige departementele boeke wat ons soms net so eenkant toe stoot, het wonderlike oefeninge daarvoor.

Wat motiveer jou as onderwyser?

Die kinders. Al praat hulle my ore van jou kop af en laat my aan die einde van ’n week met my hande in my hare by my lessenaar neerplons wanneer die laaste een die klas verlaat,  bly hulle die grootste motivering. Hulle is so opreg, vol liefde en leergierig. Dit is ’n massiewe verantwoordelikheid om ’n kind te onderrig. Hulle kom skool toe om te leer en ons het die geleentheid om die wêreld van buite na hulle te bring. Ons speel ’n integrale rol in hul holistiese ontwikkeling. Wat ’n voorreg!