Wees vindingryk, sê dié wiskunde-onnie. Matlale Leshilo is die Augustus-wenner van die Kopskuifonnies kompetisie.

Naam en ouderdom

Matlale Leshilo (41).

Waar gee jy skool en wat gee jy?

Ek gee wiskunde vir gr. 5 en lewensoriëntering vir gr. 7 by die Laerskool Selala in die River Cross-streek in Limpopo.

Hoekom het jy onderwys as ’n beroep gekies?

Ek wou eers glad nie ’n onderwyser word nie; ek wou ’n maatskaplike werker word. Ek kon nie bekostig om universiteit toe te gaan nie, toe moedig my susters my aan om ’n onderwyser te word. Toe ek dit eers swot, het ek verlief geraak op die beroep! Dit is ’n wonderlike werk en gee my die geleentheid om ’n “maatskaplike werker” in die klas te wees. Ek gee nou al 18 jaar lank skool.

Gee drie wenke vir ander onderwysers in jou veld.

1. Jy moet van jou vak hou. As jy lief is daarvoor, sal jy uit jou pad gaan om moeilike konsepte aan jou leerders te verduidelik.

2. Wees toegewyd aan jou werk en jou studente.

3. As jou leerders ’n konsep nie onmiddellik snap nie, wees vindingryk. In wiskunde is taal dikwels ’n probleem, so jy moet op jou voete kan dink om die konsepte oor te dra.

Gee drie wenke vir nuwe onderwysers in enige graad of vakgebied.

1. Jy moet dol wees oor die onderwysberoep om ’n sukses daarvan te maak en bereid wees om ’n goeie voorbeeld te stel. Wanneer mense van ’n goeie onderwyser praat, moet jou naam in hul kop opkom. Jy moet die beroep in jou hart dra.

2. Moenie die werk net doen omdat dit jou werk is nie; wees bereid om ekstra moeite te doen vir jou leerders.

3. Onthou, niemand is perfek nie – ook nie onderwysers nie! Soms moet ek ook maar die antwoorde Google.

Wat is jou gunsteling-toerusting of -boek in die klaskamer?

Ek koop verskillende wiskundehandboeke en kies die beste aktiwiteite vir my leerders. Ek geniet dit ook om die wiskundestel te gebruik wat ek as deel van my Kopskuif-onnie-prys gekry het. Dit sluit baie nuttige hulpmiddels in. Dit is heerlik om klas te gee met behulp van die iPads wat ek gewen het, en die kinders is dol daaroor.

Wat spoor jou aan?

Ek was nog altyd baie lief vir kinders. Ek help ook graag mense. Aangesien ek dié twee liefdes in die onderwys kan kombineer, is ek passievol oor wat ek doen. Op kollege is ek geleer om vir die “hele” kind klas te gee – akademies, emosioneel en moreel. Ek probeer agterkom of al die kinders in die klas gereed is vir die vak-inhoud. As ek probleme raaksien, betrek ek die ouers of professionele mense. Ek streef daarna om meer te doen as wat van my verwag word en voel geëerd dat ek as een van die Kopskuif-onnies aangewys is.