Ons onderwyser van die week, Cobus Wiese, glo daar is ’n belangrike verskil tussen opvoeding en onderwys.

Naam en ouderdom

Cobus Wiese (31)

Wat en waar onderrig jy?

Ek onderrig besigheidstudie by die Hoërskool Strand aan leerders van gr. 8-12.

Hoekom het jy die onderwys as loopbaan gekies?

Ek het reeds op ’n jong ouderdom die gaping tussen opvoeding en onderwys raakgesien. Dit was vir my belangrik om die gaping te oorbrug deur leerders nie net te onderrig nie, maar op te voed, iets wat nie altyd in die leerders se ouerhuis gebeur nie.

Gee drie wenke vir ander besigheidstudie-onderwysers:

  1. Motiveer jou leerders om beter te doen in die vak deur vir hulle te vra om doelwitte vir hulself te stel. Dan doen jy as onderwyser dieselfde en gee dit vir hulle; vind dan die goue middeweg en ondersteun hulle waar jy kan.
  2. As jy bereid is om verder te ontwikkel, maak jouself beskikbaar om as ’n matrieknasiener in die Nasionale Senior Sertifikaat te werk. Jy sal baie leer en as nasiener ontwikkel.
  3. Hou altyd die nuus dop! Daar is daagliks iets wat gebeur wat ’n effek het op ons vak.

Gee drie wenke vir nuwe onderwysers in enige vak of graad:

  1. Jy moet minstens vyf ononderhandelbare waardes in jou klas hê. Dit kan wissel van wat leerders mag of nie mag doen nie.
  2. Ek het ook al geleer dit is goed dat die leerders buite jou klas in rye aantree en eers stil raak voor hulle jou klas binnegaan; dit skep van die begin af ’n positiewe leeratmosfeer.
  3. Onthou dat leerders na jou kyk vir leiding, maar onthou ook dat sommige jou kan wil manipuleer; wees dus waaksaam hiervoor!

Wat is jou gunsteling-tegnologie of -boek om te gebruik?

Ek kyk elke oggend Dagbreek op kykNET. Daar is omstreeks 06:25 ’n kykie deur die nuusblaaie/koerante, en ek betrek dit by my lesse vir die dag. Indien jy nie toegang het tot die diens nie, lees jou daaglikse koerant. Dit bring alles wat ons aan kinders leer in perspektief!