In dié boek word onderwysers vereer deur die mense wie se lewe hulle geraak en beïnvloed het. Dié uittreksel is ’n huldeblyk van Frangelina Maki Lekhanya.

Toe ek in gr. 12 was, het my bedryfsekonomie-onderwyser vir my die moed gegee om te fokus op wat ek wou word, ongeag hoe moeilik die lewe dalk kan wees. Sy het eenkeer gesê, al het ek in ’n gebied grootgeword wat deur armoede geteister word, moet ek nie agter verskonings skuil en sê ek kan nie bekostig om vir my opvoeding te betaal omdat ek arm is nie.

’n Onafhanklike lewe was iets wat ek nooit gedink het ek eendag sou hê nie omdat ek arm grootgeword het. Ek het ervaar wat dit beteken om niks kos te hê nie, en moes op 16 gaan werk sodat ek dit sou kon bekostig om verder te studeer.

Die armoede het my laat dink ek sou nie veel in my lewe bereik nie, maar haar bemoedigende woorde het my my drome laat uitleef. Sy het eenkeer gesê as ek net in myself glo, kan ek eendag iemand word.

Ek het gedink ek is bestem vir ’n lewe waar ek sou moes bedel, maar raai wat? Ek was verkeerd! Ek het besef sukses was en is steeds moontlik. Nadat sy my met haar woorde aangemoedig het, het ek opgestaan en nooit weer teruggekyk op my vervelige, seerkry-bestaan nie; sy het altyd gesê ek moet my vlerke sprei en hoog mik.

Sy het gesê nederigheid is ’n sterk eienskap en as ek nederig bly, sal God my hoog verhef, en selfs die mense rondom my sal my respekteer vir my nederigheid. Trots en arrogansie is swak punte wat in die meeste gevalle tot jou ondergang lei. Mense van inbors is nederig en hulle betoon altyd dankbaarheid teenoor ander; hulle waardeer die kleinste goedjies in hul lewe; hulle is toeganklik, ontvanklik en die belangrikste, hulle is goeie luisteraars, wat beteken hulle is dinamiese sprekers.

Ek het geleer om die kleinste goedjies te waardeer, en ek is vandag wie ek is danksy my onderwyser se bemoedigende woorde. Dit is baie hartseer om deesdae ’n kind sonder opvoeding te sien. Ek raak elke keer hartseer wanneer ek by een van die plaasskole vrywillige werk as ’n administratiewe klerk doen wat punte op ’n stelsel vaslê en ’n gr. 6-leerder sien wat nie kan lees of skryf nie.

Ek het gedink dis dalk beter as ek van loopbaan verander en leer om ’n opvoeder te word sodat ek my bydrae tot die gemeenskap kan lewer. Ek beplan dus om by die Vrystaatse Universiteit aansoek te doen om verder te studeer.

Great SA Teachers

Great South African Teachers

Jonathan Jansen, Nangamso Koza en Lihlumelo Toyana

Macmillan

R187,37 by Kalahari of R110 as ’n e-boek