Ons het hom sewe vrae gevra.

1. Naam en ouderdom

Leigh Michael Dunn. Ouderdom: ’n rapsie ouer as 30.

2. Watter vak gee jy en waar hou jy skool?

Ek is ’n remediërende spesialis en Elsen-opvoeder. Ek werk by die Laerskool Formosa in Plettenbergbaai en is die eerste manlike opvoeder in die Wes-Kaap wat ’n Elsen-eenheid begin het. Elsen staan vir Education for Learners with Special Educational Needs. Ek het verlede jaar ’n nasionale onderwysprys gewen in die kategorie uitnemendheid in spesialebehoefte-onderwys en inklusiewe opvoeding in Suid-Afrika.

3. Waarom het jy onderwys as ’n beroep gekies?

Ek het nog altyd geglo onderwys is die moeder van alle professies en dis een van die grootste ere om ’n lewe vir altyd te verander. Dit kan net gedoen word deur ’n verskil in die lewe van ’n leerder te maak en net ’n onderwyser kan dit ooit regkry.

Onderwys is boonop die enigste beroep waar jy so baie belangrike rolle tegelyk kan vertolk en daardeur die lewens van ander nog meer kan verryk. In een dag is ’n onderwyser onder meer ’n hanswors, musikant, akteur, politikus, historikus, maatskaplike werker, kunstenaar, dokter en sielkundige. My passie vir die onderwys het begin toe ek van 10 Februarie 2003 tot einde Januarie 2007 in Suid-Korea skool gegee het. Daar het ek geleer om kinders uit niks iets te leer, want hulle verstaan nie eens ons taal nie. Daar het ek die grondbeginsels van spesiale onderrig geleer deur byvoorbeeld altyd op ’n konkrete voorwerp te fokus wanneer ek kinders ’n nuwe konsep leer.

4. Deel drie wenke met opvoeders in jou veld.

• Moet nooit moed opgee met ’n kind nie. My gunsteling-motto vir die klas is: Selfs die kleinste ster skyn in die donker. Daardeur beklemtoon ek die belangrikheid daarvan om nooit ’n kind te onderskat nie.

• Elke kind kan lees. Ek glo kinders met spesiale behoeftes hoef nie by ons opvoedingstelsel aan te pas nie; ons stelsel moet eerder by die behoeftes van hierdie spesiale kinders aanpas. Want al hulle kan dalk nie ’n boek lees nie, kan hulle ons emosies teenoor hulle lees;

• ’n Speletjie per dag hou die druk weg. Een van my onderrigstrategieë is om kinders deur opvoedkundige aktiwiteite en speletjies wiskunde en letterkunde (taal) te leer, want kinders leer beter wanneer hulle geniet wat hulle doen.

5. Deel drie wenke vir nuwe opvoeders in enige vak of graad.

• Strewe altyd daarna om ’n goeie rolmodel te wees, want onderrig is meer as net kennis oordra. Dit is eerder ’n lewenstyl. Daar is so baie mense wat goeie rolmodelle soek om na te volg.

• Wees die hoop en die lig wat mense, en veral so baie jong mense, in hierdie donker wêreld soek.

• Ongeag wat die akademiese kurrikulum van jou vereis, sorg altyd dat die kind die fokuspunt van jou klaskamer bly. Of jy jou vereiste kurrikulum voltooi of nie, dit het meer waarde om te verseker dat jou leerders gelukkig is en jou vertrou. Eers wanneer hulle jou as mens vertrou, sal hulle jou vertrou om kennis aan hulle oor te dra en in hul lewe inspraak te hê.

6. Wat is jou gunsteling-toerusting of -boek om die klaskamer te gebruik?

Ek glo die opvoeder van die 21ste eeu moet vertroud wees met die gebruik van alternatiewe leermateriaal, soos die iPad, rekenaar en televisie. Ek het al hierdie materiale en ander soos musiekinstrumente en CD-spelers in my klaskamer, want die era van net met handboeke onderrig is lankal verby. As ons as opvoeders leer hoe om met moderne tegnologie by te bly, sal ons die aandag van ons leerders behou en hulle gelukkig en opgewonde hou oor leer.

7. Wat spoor jou aan?

Die wete dat ek gekies het om ’n lewenslange verskil in die lewens van so baie jong kinders te maak, is inderdaad vir my ’n groot eer. Daardie gedagte alleen spoor my daagliks aan om selfs meer as my beste te doen. Ek doen dit nie vir myself nie, ek doen dit vir ander. Hoe lui die sê-ding? “Om onderwys te gee is om ’n lewe vir altyd aan te raak.”

teacher2