Sterkte aan al die leerders met die baie leerwerk.

Styg uit bo gemiddeld wees!

En soos ek deur die opstelle worstel en op my horlosie sien dis al laaaaankal slaaptyd, bepeins ek die feit dat ons in ’n samelewing leef waar gemiddeld wees baiekeer die norm is waarvolgens mense leef.

Dit is goed genoeg om te slaag. Of dat die taak eindelik ingegee is. Of dat die opdrag vir die “baas” afgehandel is. Dan wonder ek wat het geword van die beste wees wat jy kan wees?

Daar is soveel leerders wat onder hul potensiaal en vermoë presteer. Daar is soveel volwassenes wat nooit tevredenheid en sukses in hul loopbaan ervaar nie – omdat gemiddeldheid goed genoeg is.

Wanneer onderwysers leerders in die skool en ouers hulle by die huis motiveer en ondersteun om uit te styg en hul volle potensiaal te bereik, kan ons die samelewing vernuwe met ’n generasie wat ’n verskil sal maak.

Miskien moet elke onderwyser hom-/haarself weer ’n slag in die oë kyk en vra:

  • Is ek elke dag die beste moontlike onderwyser wat ek kan wees?
  • Motiveer en help ek die leerders in my klas, of gee ek maar net ’n les om die werk afgehandel te kry en my salaris te verdien?
  • Is ek ongeduldig en ongenaakbaar met leerders wat sukkel of nie huiswerk gedoen het nie? Of het ek begrip dat alle leerders nie net lui is nie, dat daar soms werklik omstandighede en probleme is wat in ag geneem moet word?
  • Ouers moet ook nie hul belangrike rol miskyk of hul verantwoordelikheid ontduik nie. Dit is nodig dat elke ouer so dan en wan die volgende vrae eerlik beantwoord:

  • Doen ek nog moeite om my kind te motiveer? Nie net deur woorde nie, maar ook deur my positiewe voorbeeld?
  • Is ek dalk verantwoordelik daarvoor dat my kind soms negatief is oor die skool, ’n onderwyser of reëls? Is ek positief ingestel en probeer ek objektief wees wanneer my kind swak doen in ’n toets, of is dit altyd die onderwyser se skuld? Leer ek my kind dat die lewe uit reëls bestaan wanneer hy of sy oor te lang hare of naels aangespreek word, of sê ek voor my kind hoe simpel die skool se reëls is?
  • Wanneer laas het ek as ouer my kind eenkant geneem en rustig en mooi gesels oor verantwoordelikheid en die wil om te presteer? Nie afbrekend of beskuldigend nie, net motiverend.
  • Gemiddeldheid is om elke dag bloot deur die dag te worstel en op te sien na die dag van môre.

    Om die beste te wil wees wat jy kan wees, maak elke dag ’n heerlike nuwe uitdaging wat jy met geesdrif aanpak!

    - Olga Channing

    olgachan

    Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.