Tieners wat aan elektroniese sigarette teug se kans is omtrent vier so groot soos hul nierokende eweknieë om later in hul lewe tabak te rook, toon ’n nuwe ondersoek. 

In die eerste stuk navorsing om te bepaal of die gebruik van elektroniese sigarette (vaping) lei tot die rook van regte sigarette, maan kenners die vloeibare weergawe van nikotien keer dalk nie dat mense die ware Jakob rook nie. 

’n Span van die Universiteit van Leeds het opnameresultate van 2 836 leerders by 20 verskillende skole in Engeland ondersoek. Die skoliere is op 13 en 14 die eerste keer ondervra en toe weer op 14 en 15. 

In daardie jaar het 34 persent van dié wat net e-sigarette gebruik het tabak op die proef gestel. En in die groep wat eers glad nie gerook het nie, het 9% in hierdie tyd tabak gerook. 

Die kenners wys wel daarop dat die tieners net gevra is of hulle met tabak geëksperimenteer het, wat kan beteken party het net ’n enkele teug geneem. 

“Die bevindings dui daarop dat die gebruik van e-sigarette onder tieners wat nooit gerook het nie ’n sterk aanduider was dat hulle binne 12 maande ’n gewone sigaret sou beproef,” sê die ondersoekleier, prof. Mark Conner van die bevindings. Dis in die BMJ-joernaal Tobacco Control gepubliseer. 

“Dit is onmoontlik om te sê of die jong mense net met sigarette geëksperimenteer of gereeld gerook het.”

In die groep adolessente wat reeds tabak beproef het toe die ondersoek begin het, het dié wat ook e-sigarette beproef het meer begin rook. Maar weer wys die wetenskaplikes daarop dat die resultate nie beduidend genoeg is om as betekenisvol beskou te word nie. 

Ter gevolgtrekking verduidelik die kenners ’n mens kan “aanneem” die gebruik van e-sigarette kan rook “normaliseer” of tot nikotienverslawing lei. 

“Ons ondersoek beklemtoon die waarde van die regulering van die bemarking en verkoop van e-sigarette aan adolessente,” sê prof. Kamran Siddiqi van die Universiteit van York, wat aan die navorsing gewerk het. Die professor verwys na die ouderdomsbeleid dat jy in Brittanje 18 jaar of ouer moet wees om e-sigarette en die vloeistowwe daarvoor te koop. "

“Brittanje het streng beheermaatreëls in dié verband. Dit is belangrik om die maatreëls doeltreffend af te dwing en waaksaam te bly deur e-sigaretgebruik onder minderjariges noukeurig te monitor.”