VERLEDE week het die jaarvergadering van die PNDSA (Postnatale Depressievereniging van SA) plaasgevind. Die PNDSA is ’n fantastiese organisasie wat wonderlike steun verleen aan vroue wat ná die geboorte van hul kind aan depressie en angstigheid ly.

Ek was gefassineer deur ’n praatjie waarin gevra is of pa’s ook nageboortelike depressie kan opdoen. Dis ’n goeie vraag – al die aandag is altyd op ma’s, maar wat van pa’s?

Navorsing wys dat mans wel ná die geboorte van hul baba simptome van depressie kan kry en dan byna so kwaai soos vroue daaraan kan ly. Minstens twee van die faktore wat tot nageboortelike depressie bydra raak mans ook: slaapverlies en selfverlies (oftewel die enorme verandering in jou lewe as jy ’n ouer word). Dit maak dus sin dat as ’n man dieselfde ervarings het, hy ook nageboortelike depressie kan opdoen.

Maar as ons na die syfers kyk, lyk dit of mans minder swaarkry as vroue. Ek reken daar is twee redes voor:

  • Mans dink hulle moet alles kan hanteer en hou nie daarvan om te erken hulle kry swaar nie. Die gemeenskap plaas te veel druk op mans om sterk te wees en nie ineen te stort nie. Daarom beskou mans die erkenning dat dinge moeilik is – miskien te moeilik om te hanteer – as ’n teken van swakheid. En dan bly hulle stil.
  • As mans wankel, word hulle nie hartseer nie – hulle word kwaad. Kwaad, aggressief en prikkelbaar. Maar eintlik, diep binnekant, ly hulle vreeslik.

Dis moeilik om ’n nuwe ma of pa te word – moeiliker as wat enigiemand ooit kan voorspel. En dit kos ’n baie spesiale ouer om ondersteuning te gaan soek. My raad aan ouers is om nie alleen te ly nie. Nageboortelike depressie is gevaarlik – vir jou en selfs meer vir jou baba se emosionele ontwikkeling.

As jy dink jy ly daaraan – moenie hartseer wees nie, moenie woedend word nie en moet veral nie verspot genoeg wees om dit alles op te krop nie – reik uit. Gaan kyk op die uitmuntende webtuiste van die PNDSA – daar is ’n eenvoudige aftiklysie waardeur jy kan werk om te kyk of jy regtig nageboortelike depressie het.

– Meg Faure

Meg small Meg Faure is ’n arbeidsterapeut met ’n belangstelling in babas, veral die wat ekstra moeilik is of sukkel om te slaap.Sy is  medeskrywer van dié topverkopers:  Baby Sense, Sleep Sense,  Feeding Sense en Your Sensory Baby. Meg het ook ’n versameling Baby Sense-produkte ontwerp na aanleiding van die beginsels wat in haar boeke bespreek word.