EK HET onlangs weer boeke gelees uit die Uile-, Maasdorp-, Keurboslaan en Saartjiereekse en toe terugverlang na my skoolvakansies op Hermanus. Hermanus het die wonderlikste biblioteek gehad – eintlik het die dorp steeds ’n fantastiese biblioteek, maar vroeër jare was die bib naby die Ou Hawe en het hulle die vensters in die somer oopgegooi sodat die bib na sout seelug geruik het. Al hierdie boekreekse is steeds beskikbaar, maar daar is deesdae ’n lekker verskeidenheid nuwe boeke wat ’n volgende geslag aan die lees sal kry. Ek fokus vir eers op die buksies, met ander woorde lesertjies wat onlangs eers sélf begin lees het, en ampertieners (kinders wat darem nog nie lus het vir die vryerige boy meets girl-boeke nie).

Speurder Kwaaikofski deur Jürgen Banscherus

Kwaaikofski Dit is eintlik ’n Duitse speurverhaalreeks vir beginnerlesers, maar meesterlik in Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys, wat ook van die Harry Potter-boeke in Afrikaans vertaal het. Speurder Kwaaikofski is ’n skoollaaitie wat áltyd Carpenter-kougom kou en ’n pet dra, en eenvoudige raaisels oplos. In boek 1 (hier in Suid-Afrika uitgegee deur Human & Rousseau) moet hy uitvind wie sy geliefde kougomsoort by die lekkergoedkiosk steel, en in boek 2 is daar ’n pienk skoolspook wat vasgetrap moet word. Vyf boeke in die reeks is in die aanlynwinkel kalahari.com beskikbaar (tussen R67 en R85 elk).

Speurder Annika deur Elmarie Botes (geïllustreer deur Johann Strauss)

speurder-annika Lapa-uitgewers het op sy beurt ’n lekker reeks vir meisies op die rak. In Speurder Annika Stel Ondersoek In moet dié graadvyf-meisie snuffelwerk begin doen nadat kostuums en rekwisiete vir die skool se revue verdwyn. Vyf boeke is reeds in die reeks beskikbaar en kan by kalahari.com bestel word (R80 elk).

Gedaantes en Geraamtes deur Louise Prinsloo (geïllustreer deur Jeanine Henning)

Gedaantes Die derde omnibus in dié reeks (R140 by kalahari.com) is reeds beskikbaar en is tonekrul-spookstories vir lesers wat al ’n klein bietjie meer gevorderd is. In Spookhuis by die See, die eerste verhaal in Omnibus 3, nooi Giepie sy goeie maats Wikus en Karel vir die Paasnaweek na sy oom se strandhuis op Mosselbaai. Wanneer Wikus traag is om saam te gaan, belowe Giepie hom hope opwinding omdat hulle in ’n spokerige houthuis gaan slaap. Wikus sluk eers glad nie aan die stories nie, maar op Mosselbaai begin vreemde dinge gebeur. Dalk ís daar ’n spook in die omgewing . . . Die derde verhaal, Duiwel-in-die-bos, is ’n nuwe verhaal wat spesiaal vir die omnibus geskryf is.

Nog 13 Spookstories (Francois Bloemhof, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs)

nog_13_spookstories

Al drie hierdie skrywers het al super-fantastiese boeke vir tieners uitgegee (Fanie se Nova-boekreeks is byvoorbeeld iets wat volwassenes gerus ook kan lees), en in 13 Spookstories en Nog 13 Spookstories (R100 elk by kalahari.com) dis hulle weer stories op vir jong lesers met senuwees van staal. Die Laaste Kompartement deur Francois Bloemhof was my gunsteling. Edwin Pieterse is deel van ’n skooltoergroep wat op ’n trein oornag, maar hy is die enigste een wat alleen in ’n kompartement moet slaap. Hmmm, en die snorkgeluide laat hom dink hy is dalk nié alleen nie.

Is jy ook ’n boekvraat? Lees dan ons ander boekbekendstellings:

Oe-la-la . . . vuurwarm leesstof vir koue aande

Leer by die beste. Leer by Jack Reacher

Wat is ’n huis sonder ’n hond?

Op reis deur Florence saam met Inferno

Bloggers en Facebookers sal van dié spanningsverhaal hou