parenting MAIN

VANDAG het ek ’n wonderlike paartjie in my terapie-spreekkamer ontmoet. Hulle was daar om my te raadpleeg oor hul kleintjie wat nie goed slaap nie.

As ek probeer vasstel waarom babas nie goed slaap nie, vra ek altyd of die mamma ’n verlies ervaar het. Verliese, soos die heengaan van ’n familielid, wiegiedood, miskraam of selfs aborsie lei soms tot skeidingsangs by ma’s.

Dit gebeur dalk omdat jy bang is jy verloor hierdie kosbare baba, en omdat slaap simbolies is van jou eerste ware skeiding van jou baba, laat dit jou angstig voel. Party babas is dus nie vanself slegte slapers nie; hul ma help die slegte slaappatroon aan want hulle pla hul baba heeltyd omdat hulle bang is vir nog ’n verlies.

Dit klink dalk vergesog, maar ek het agtergekom dit help ’n ma dikwels baie om te besef dat skeiding deur slaap normaal en gesond is. In dié proses leer die ma hoe om haar baba “toe te laat” om te slaap, self tot ruste te kom en ’n onafhanklike slaper te word.

Vandag het ek dus vir die ma gevra of sy verlies gely het. Ek het verwag ek sal soos gewoonlik ’n eenvoudige “nee” hoor, of ’n meer pynlike verduideliking oor die verlies van ’n geliefde. Vandag het ek vir die eerste keer gehoor: “Ja, ek het verliese gely – verlies aan slaap en, o, ook die verlies van myself.” Ek dink nie ’n ma was al ooit so skerp en eerlik nie.

Moederskap het verliese tot gevolg, en verlies moet altyd met rou gepaardgaan. Tog het ons selde die ruimte om te rou oor die verlies aan tyd vir onsself, verlies aan ’n loopbaan, verlies aan die vryheid om dinge te doen sonder om altyd ’n klomp toerusting saam te piekel, verlies van die jong, sorgelose mens op wie ons man verlief geraak het, en, natuurlik, verlies aan slaap. Ons rou egter nie, want:

  • Ons het dan so baie gekry (’n oulike bondeltjie vreugde),
  • Ons het hierdie paadjie gekies en wil dit glad nie anders hê nie,
  • Ons voel skuldig as ons rou oor iets wat so baie positiewe fasette het.

Ek dink ons moet, as ma’s en pa’s, ’n oomblik opsysit om oor verlies na te dink en te erken dat dit nie heeltyd maanskyn en rose is nie en dat dit ook nie so hoef te wees nie, want dis moeilik om nie ’n goeie nag se slaap in te kry of op jou eie toilet toe te kan gaan nie. Regtig moeilik!

Vier dus die koms van jou baba, maar erken die verlies en weet dat jy jou lewe sal terugkry – nie soos dit was nie, maar ek belowe jou dis uiteindelik al die verliese werd. Vir my was dit die afgelope 15 jaar elke sekonde werd.

– Meg Faure

Meg small Meg Faure is ’n arbeidsterapeut met ’n belangstelling in babas, veral die wat ekstra moeilik is of sukkel om te slaap.Sy is  medeskrywer van dié topverkopers:  Baby Sense, Sleep Sense,  Feeding Sense en Your Sensory Baby. Meg het ook ’n versameling Baby Sense-produkte ontwerp na aanleiding van die beginsels wat in haar boeke bespreek word.