DIE TV-reeks The Simpsons het jou dalk skepties gemaak dat ’n app met die naam Learn With Homer énigiets goeds vir jou kind kan beteken. Maar wees gerus! Dié app, wat spesifiek vir Apple se iPad ontwikkel is, het niks met die geel, bierslurpende boepmaag-animasiekarakter te doen nie. Die Homer in dié app is ’n posduif!

Learn With Homer is ’n nuwe tablet-toepassing waarmee voorskoolse kinders tussen die ouderdomme van 3 en 6 jaar kan leer lees. Dit bevat interaktiewe komponente wat verskeie leertegnieke in een app saamvoeg.

Kinders kan maklik tussen die drie hoofafdelings van die app navigeer. “Story time”, wat in die app ingebou is, bevat ’n versameling rympies, fabels en oorspronklike stories wat handel oor Homer die posduif en sy diere-vriende.

“Discover the World” bevat ’n reeks virtuele uitstappies waar kinders oor allerlei onderwerpe soos die wetenskap kan leer. Dié uitstappies, soos ’n besoek aan die dieretuin, integreer verskillende leerareas – kinders leer nie net lees nie, maar kan ook byvoorbeeld die diere teken waaroor hulle leer. Dié kinderkuns word weer in Homer se klubhuis uitgestal.

Stephanie Dua, die skepper van die app, sê die idee vir Learn With Homer het ontstaan toe sy ’n app gesoek het om haar eie dogter te help leer lees. “Daar is uitstekende navorsing oor hoe om kinders te leer lees, maar ek kon geen toepaslike hulpbronne vir ouers opspoor nie.”

Veral Graad R-onderwysers kan ook baat vind deur dié app in die klaskamer te gebruik. Volgens ’n verslag van die Joan Ganz Cooney Center was byna driekwart van al die topverkoper-apps gemik op kinders tussen drie en sewe jaar. En hoewel daar verskeie apps is wat kinders van dié ouderdom leer tel of basiese Wiskunde doen, is daar relatief min wat kinders leer lees, het die tydskrif Forbes geskryf.

Die app kan gratis afgelaai word, maar ná die eerste paar gratis lesse moet addisionele lesse aangekoop word.

Vir Afrikaanssprekendes is die iPad-app Lollos se Vlerke (R39,99) ’n goeie alternatief. Dié app is effens minder interaktief as Learn With Homer, maar die kleintjies kry die keuse of die app vir hulle die storie moet voorlees, en of hulle sélf die storie wil lees. Dis lekker pret!

(Shané Barnard)