Vir menige ouer is een van die grootste uitdagings om die regte balans te kry tussen oorbeskermend wees en jou kleinding vrye teuels gee om te speel en ontdek.

Hulle gaan seerkry, hulle gaan val, maar onthou: Jy as ouer of toesighouer kan nie oral keer en troos nie.

Hier is ’n paar wenke om dié uitdagings die hoof te bied.

Badtyd

’n Baba of kleuter kan binne vyf sekondes brandwonde opdoen in water van 60 °C. Toets eers die water self voor jy jou kind in die water sit. As dit te warm vir jou is, is dit beslis hopeloos te warm vir die kleinding se delikate vel.

Vensters

Daar is alte dikwels berigte van kleuters wat by vensters uitgeval het, gewoonlik van ’n verdieping ver. Diefwering met ’n spasie van nie meer as 10 cm of knip wat keer dat die venster wyer as 10 cm oopswaai, is een metode om sulke voorvalle te help verhoed.

Let ook op na waar jou blinding- en gordynkoorde hang sodat ’n kleuter nie daarin verstrengel raak nie.

In en om die huis

Kinders is nuuskierig. Dis ’n feit. As daar iets is om in, oor, deur of verby te klouter, kan jy maar weet: Dit gaan gebeur. Weer is die wagwoord hier dat ouers bewus moet wees van al die moontlike gevare hieraan verbonde. Daar is te veel gevalle waar kinders die nuus om al die verkeerde en baie hartseer redes haal.

Toerusting wat buite die huis rondstaan en in die meeste gevalle daar is omdat dit nie langer werk nie, is een van die grootste gevare tuis. Hoe gereeld sien jy nie dalk ’n koel- of ’n vrieskas of ’n ou motor rondstaan nie?

Lees ook: Vyf SA kinders dood gevind in vrieskas

Vir avontuurlustige kleingoed is dit die ideale speelplek. Maar as ’n vrieskas se deksel eers toeslaan, is dit te laat. Geen suurstof, te min krag in hul armpies om die deksel oop te stoot en dan natuurlik: die vrieskas self is te dig vir hulpkrete om maklik gehoor te word.

Batterye

Hou goed soos digitale skale, sakrekenaars en flitsende liggies wat met muntstuktipe batterye werk buite bereik van jong kinders. Doen dieselfde met los batterye. ’n Goeie idee is ook om maskeerband rondom die batteryhuisie van enige afstandbeheer-toestelle te draai of ander toestelle wat met batterye werk.

Honde

Nader slegs ’n hond nadat daar toestemming van die eienaar gevra is. ’n Hond met ’n swaaiende stert is gewoonlik ’n goeie teken, maar dit beteken nie dis ’n kindervriendelike hond nie.

Uitstappies?

Selfs wanneer julle by die winkel is, moet jou kleuter seker maak dat hy jou deurgaans kan sien. Daar is soveel wat jou aandag kan aflei. Veral die speelgoedrakke het ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag vir kinders, of jy loop ’n langverlore vriendin raak en julle deel die jongste nuus. Ouers en kinders moet dit as tweede natuur in openbare plekke ontwikkel.

Vuur

Les nommer een: kinders en vuurhoutjies moet sover moontlik uitmekaargehou word. Gebruik jou gesonde verstand in die kombuis en beperk aandagafleiers wanneer jy kook. Moet nooit ’n warm oond of aangeskakelde stoofplate alleen los nie.

Fietsry

Moenie jou kind te veel beskerm nie. Maak seker hy verstaan die waarde van beskermende klere en die gevaar van spoed op afdraandes. Help hom die moontlike gevolge verstaan van wat kan gebeur as die nerwe waai omdat hy nie die nodige knieskerms en helm gedra het nie, maar moenie sy avontuurlus demp nie.

Verstikking

Hou jou kind se ouderdom in gedagte wanneer jy speelgoed koop. Selfs al het jy die perfekte speelding opgespoor, is dit steeds belangrik om te kyk of daar enige los dele is wat dalk kan loskom en tot verstikking kan lei.

Lees ook: Hoe gemaak wanneer ’n kind wil verstik?

Hou klein magnete ook ver weg van kinders.

Basiese motorveiligheidsreëls

Loop reg rondom jou geparkeerde motor voor jy wegtrek. Wegkruipertjie is ’n groot gunsteling onder die kleinspan en waar dan nou beter as agter ’n groot stuk metaal . . .

Televisie en meubels

Hoe stewig is die TV-stel in jou huis? Monteer platskermtelevisies teen die muur om te keer dat dit tuimel en dalk bo-op jou kind val. Gebruik ’n steunraam om meubels wat swaarder aan die bokant is, teen die muur te verstewig.

Vuurwapens

Kan ons ooit genoeg hierteen waarsku? Vuurwapens moet ongelaai op ’n veilige plek soos in ’n kluis weggesluit word. Ammunisie moet apart van vuurwapens geberg word. Hou die sleutels of slotkombinasie geheim. En natuurlik: Vuurwapens is nie speelgoed vir kleingoed nie.

Algemeen

Wees op die uitkyk na tekens van aggressie, geweld of roekeloosheid wat tot gereelde ongevalle-besoeke lei. Gesels met die pediater om uit te vind of dit bloot net ’n manier is om perke te beproef en of daar iets diepers agter die gedrag skuil.

Bronne: parents.com, safekids.org