’n Karwag, Thandi Sithole, het die huilende baba opgelet en deur die motor se venster die baba gesien wat “histeries huil”.

Thandi het vir sowat 15 minute gespook om die baba te kalmeer voordat sy die sentrum se sekuriteit ontbied het.

“Ek het sekuriteit laat weet en iemand het die polisie gebel. Daarna is ek die sentrum binne om die ouers te probeer opspoor – ek kon onthou hoe hulle lyk.

“Ek het teen die venster getik en vir die baba gesing om haar te laat kalmeer, maar sy wou nie ophou huil nie”

Die polisie en nooddienste het by die toneel opgedaag kort voordat die ouers uit die sentrum teruggekeer het. Hulle het na bewering aan polisielede verduidelik dat dit ’n fout was en hulle net ’n paar minute binne die sentrum was.

Nog ’n sekuriteitswag by die sentrum, wat anoniem wou bly, sê sy merk gereeld op dat ouers hul kinders in die motor los terwyl hulle inkopies doen.

“Hulle los die kinders, wat dikwels baie jonk is, in die motor met toe vensters en sluit summier die motor en loop weg.

“Hulle laat ons, die wagte, nie eens weet nie. As hulle ons sê kan ons minstens die kinders dophou – hulle loop net weg. Dis nie reg nie.”

Selfs tydens Wintermaande is dit onveilig om jou kind binne die motor te los.

  • Iemand kan in jou motor vasry terwyl jou kind binne-in is.
  • Jou kind kan siek raak of hulself beseer binne die motor.
  • Iemand kan jou voertuig steel met jou kind binne-in.

Dit is veral in warm Somermaande wat kinders wat in motors gelos word seerkry. Huisgenoot het 'n eksperiment uitgevoer om te kyk presies hoe warm 'n motor wat in die son staan kan raak.

News24