Nicole Masureik is die hoof van lewenswetenskappe en IT-opvoedingbestuurder aan die Hoërskool Pinelands.

1. Watter sosialemedianetwerke gebruik jy vir onderrig?

Ons gebruik Google Docs, skermbeeldsending (video’s wat op die skool se YouTube-kanaal gelaai is), Facebook, Twitter en Edmodo om ná skoolure te kommunikeer, hulpbronne van die huis af beskikbaar te stel, aanlynbeoordelings te skryf, saam te werk of ekstra hulp te gee.

2. Vertel vir ons meer meer van die gebruik van Edmodo. Hoe het dit die manier verander waarop jy klas gee? Wat is die voor- en nadele?

Ek is mal oor Edmodo! Alle kinders teken op hul vakonderwyser se klas in. Ons deel lêers en hulpbronne – skakels na onder meer webtuistes, dokumente of lêers. Ons stel ook aanlynbeoordelings op. Dit help ouers hul kind se werk monitor. En dit stel kinders in staat om ná ure vrae te vra en hulp te kry.

3. Party onderwysers sê hul skool weier om sosiale netwerke beskikbaar te stel vir byvoorbeeld die deel van huiswerk, want leerders leer nie verantwoordelikheid as inligting altyd beskikbaar is nie. Hoe voel jy hieroor?

Ja, daar steek waarheid in, maar ek het die teenoorgestelde ervaar. Kinders is meer geneig om hul huiswerk te doen as hulle weet hulle het geen verskoning nie, want dit is op die internet. Hulle is meer geneig om deel te neem as die werk vereis dat hulle ’n rekenaar gebruik. Nou vra hulle ek moet vir hulle die werk daarop sit, want hulle sien hoe dit hul leerdery by die huis bevoordeel.

4. Het jy wenke vir onderwysers wat in ’n omgewing werk waar tegnologie-hulpbronne skaars is?

Kry ’n slimfoon. Laat jou leerders hul slimfoon in die klas gebruik. Jy het nie ’n rekenaar, skootrekenaar, iPad of tablet nodig nie; jy kort net toegang tot die internet. Anders kan jy die klaskamer omkeer sodat die kinders hul rekenaar by die huis gebruik om die video van die les te kyk. Khan Academy het ’n klomp, maar YouTubeEdu is ook goed en daar is letterlik hordes ander opvoedkundige videowebtuistes. As jy kans sien, kan jy jou met ’n webkamera verfilm terwyl jy klas gee.