Vroue word reeds jare lank wysgemaak nadat hulle ’n keisersnee ondergaan het, sal al hul kinders daarna ook so in die lewe gebring moes word. Maar in ’n onlangse verslag word dié teorie betwis.

Navorsers van die Centers for Disease Control and Prevention het in 2013 inligting bestudeer uit geboortesertifikate wat uit 41 Amerikaanse deelstate kom. Dit verteenwoordig 90 persent van alle geboortes in die VSA vir daardie jaar.
As ’n vrou eers een keer ’n keisersnee gehad het, het sy gewoonlik dieselfde prosedure ondergaan vir daaropvolgende kinders.

Die meeste van die vroue het, ná die eerste keisersnee, elke keer weer deur middel van ’n keisersnee die lewe geskenk, maar 20 persent het probeer om natuurlik te kraam en 70 persent van hulle het suksesvol vaginaal die lewe geskenk. Die orige 30 persent moes ’n noodkeisersnee ondergaan.

As ’n vrou eers een keer ’n keisersnee gehad het, het sy gewoonlik dieselfde prosedure ondergaan vir daaropvolgende kinders. Dis omdat daar groot risiko’s verbonde is aan ’n noodkeisersnee as daar iets met die natuurlike proses skeefloop, soos wanneer die baarmoeder byvoorbeeld skeur.

In die studie is egter bevind die vroue wat suksesvol natuurlik die lewe geskenk het ná ’n aanvanklike keisersnee, was minder geneig om bloedoortappings nodig te kry, om onbeplande histerektomieë te ondergaan of om intensiewe sorg nodig te kry.

Die verslag, saamgestel deur Sally Curtin van die CDC se National Center for Health Statistics, het gelui: “By vroue wat voorheen deur middel van ’n keisersnee die lewe geskenk het en wat in kraam gegaan en vaginaal die lewe geskenk het, is daar oor die algemeen ’n laer voorkoms van die meeste siektetoestande.

“Gegewe die laer voorkoms van siektetoestande by vaginale geboortes in vergelyking met dié van ’n keisersnee, beveel ons aan dat die meeste vroue wat nog nie ’n keisersnee ondergaan het nie, moet probeer om natuurlik te kraam. Vroue wat wel vantevore ’n keisersnee gehad het, maar wat laerisikogevalle is, moet ook probeer om natuurlik te kraam.”

Die deskundiges het egter bygevoeg dat daar steeds risiko’s betrokke is en dat dit verhoog word by vroue wat aanhoudend noodkeisersneë moet ondergaan. Daar is bevind dat die persentasie van skeuring van die baarmoeder in dié geval sewe keer hoër is as by vroue wie se keisersnee beplan was.

© Cover Media