Ja, die kans is seker goed dat jy ’n werk sal kry met streng intreevereistes wat eis dat jy ‘n hoër kwalifikasie moet hê, maar nuwe navorsing dui daarop dat ’n goeie opvoeding nie noodwending die sleutel tot jou kanse van geluk is nie.

Die Universiteit van Warwick het ’n studie gedoen waarin hulle gekyk het na die sosio-ekonomiese faktore wat gekoppel is aan geesteswelstand, insluitend persoonlike finansies en vlak van opvoeding.

Navorsers argumenteer dat dit dikwels aangeneem word dat ’n lae vlak van opvoeding ‘n persoon meer vatbaar maak vir geestessiektes. Hulle wou uitvind of ’n persoon met ’n hoër opvoeding verbeterde geesteswelstand het.

Die navorsing het breedvoerig na bestaande data van ’n Gesondheidsopname vir Engeland in 2010 en 2011 gekyk. In die tydperk het 17 030 deelnemers aan die Warwick-Edinburgh Geesteswelstandskaal (WEMWBS) deelgeneem wat bestaan uit 14 positief-bewoorde items met vyf terugvoerkategorieë om welstand te evalueer.

Uit hul evaluering, het Warwick-navorsers gevind dat mense van alle vlakke van opvoeding soortgelyke hoë geesteswelstand het, wat hulle gedefinieer het as “voel goed en funksioneer goed”.

Dit is ook gevind dat daardie mense met hoë vlakke geesteswelstand daartoe in staat is om geluk en tevredenheid in hul lewens te handhaaf as gevolg van die manier waarop hulle probleme aanpak wat hulle in die gesig staar, soos verhoudingsprobleme.

“Hierdie bevindings is nogal omstrede omdat ons verwag het om te vind dat die sosio-ekonomiese faktore geassossieer met geestessiektes ook ooreen sal stem met geesteswelstand,” het hoofouteur Professor Sarah Stewart-Brown verduidelik.

“Dus, as lae opvoedkundige prestasie sterk met geestessiektes geassossieer word, sal hoë opvoedkundige prestasie sterk aan geesteswelstand gekoppel word, maar dit is nie die geval nie.” Professor Stewart-Brown het bygevoeg dat Afro-Karribiese mense die hoogste vlakke van geesteswelstand getoon het, veral onder die mans.

© Cover Media