Prof. Maureen Robinson

Dit lyk dalk voor die hand liggend, maar ons vergeet dikwels dat ons samelewing sonder onderwysers ook geen verpleegsters, ingenieurs, argitekte, dokters, geskiedkundiges, prokureurs, vakmanne of entrepreneurs sou gehad het nie. Hoe sou die argitek strukture kon ontwerp as iemand nie vir hulle die grondslag gelê het vir visuele, estetiese en wiskundige vaardighede nie? Hoe sou die geskiedkundige gebeure kon vaslê sonder dat iemand die grondslag gelê het vir ontleding, vergelyking en samestelling? Hoe sou formele kennis na die volgende geslag oorgedra geword het as ons nie onderwysers in skole gehad het nie?

Daar word van onderwysers verwag om die kennis te verskaf wat mense nodig het om in ’n ekonomie te funksioneer. Daarby help goeie onderwysers jong mense die vaardighede aanleer wat nodig is om burgers van ’n demokrasie te wees. Of dit nou is oor bespreking van die sake van die dag, ’n mening vorm, ’n standpunt verdedig of empatie vir ’n probleem betoon, onderwysers wys dit is moontlik om aktiewe keuses te maak oor die doel waarvoor ons ons verworwe kennis aanwend.

Suid-Afrika het amper 400 000 onderwysers. Toegegee, soos in alle beroepe is van die onderwysers meer toegewyd, vaardig en hardwerkend as ander. Ongelukkig is die onderwysberoep oor ’n aantal jare in die openbare domein ondermyn. Die dwaasheid van hierdie benadering word bevestig deur Finland, wat bekend is daarvoor dat hul skole die beste ter wêreld presteer, waar net topkandidate gekies word om die onderwys te betree en waar die beroep die hoogste agting geniet.

Die afgelope vyf of ses jaar voer die nasionale onderwysdepartement die veldtog Funza Lushaka (“leer die nasie”) onder die slagspreuk “meer onderwysers, beter onderwysers”. Deur beurse toe te ken aan topkandidate wat “aangewese”, skaars vakke kan gee en wat bereid is om vir die duur van die beurs wat hulle gekry het in ’n openbare skool en verkieslik op die platteland skool te gee, het honderde bekwame jong mense die kans gehad om ’n onderwyser te word. Inskrywings by universiteite het ’n hupstoot gekry en die tekort aan onderwysers in die land word teengewerk, in party provinsies wel meer as in ander.

Ons onthou waarskynlik almal ’n spesiale onderwyser. Dit is gewoonlik iemand wat ons iets oor die lewe geleer het, pleks van die inhoud van ’n sekere vak. In my geval onthou ek die onderwyser wat die leerlinge (ja, ons was toe leerlinge en nie leerders nie) in sy klas geleer het om mooi te luister en hul bes te doen om ’n regverdige oordeel te vel, iets wat vandag nog vir my belangrik is.

Die onderwys gaan natuurlik ook oor die inhoud en as ons ’n rol in die wêreldekonomie wil speel, het ons deur die bank onderwysers nodig wat uitblink met die leer van basiese lees- en skryfvaardighede, asook gevorderde fisika en wiskunde. Ons kan nie die gehalte van onderwys afskeep nie, want dit het ’n te nadelige langtermynuitwerking op ons samelewing.

Gemeet aan wêreldstandaarde presteer Suid-Afrika swak. Ons moet moeilike vrae vra oor waarom dit so is en in gedagte hou dat die redes dalk verder strek as dit wat in die klaskamer gebeur. Is die onderwysers nie in staat om die inhoud behoorlik te verduidelik nie? Is die leerders nie gemotiveerd nie? Is taal ’n probleem? Is die kultuur van die skool nie bevorderlik vir leer nie? Word die dae op ’n ordelike manier gereël? Is die klaskamers koud? Is die leerders honger?

Vele faktore kan ’n uitwerking op onderwys en leer hê. Ons kan nie net na die onderwysers vinger wys wanneer dinge skeefloop nie. Ons het ’n gemeenskaplike gesprek op plaaslike vlak nodig oor hoe ons jong mense die beste geleenthede moontlik kan bied.

Wêreldonderwyserdag is ’n kans vir onderwysers om te besin oor wat hulle reg doen en hoe hulle kan verbeter. Dit is ’n kans vir diepe selfondersoek oor hoe om ’n rolmodel te wees in ’n lewenslange verbintenis aan leer. Dit is ook ’n kans vir diegene van ons wat by die opleiding van onderwysers betrokke is om mooi te dink oor hoe ons onderwysers toerus, veral wat betref die baie uiteenlopende toestande in ons land. Ons moet sorg dat daardie onderwysers wat aan ons universiteite afstudeer die vaardighede en eienskappe het om tot die opvoeding van elke individu by te dra, wat hul omstandighede ook al is. Dit is ’n verantwoordelikheid wat ons nie ligtelik moet opneem nie.

Miljoene onderwysers is wêreldwyd in diens en al verskil hul opvoedingstelsel dalk, deel hulle die algemene doelwit om die toekomstige volhoubaarheid van individue, gemeenskappe en nasies te verseker.

Laat ons ter viering van Wêreldonderwyserdag onthou om ons onderwysers te eer en vorige, huidige en toekomstige onderwysers te behandel met die respek wat hulle verdien.

Robinson_MaureenProf. Maureen Robinson is die dekaan van die fakulteit van onderwys aan die Universiteit Stellenbosch.