Die ou gesegde dat vroue “vir twee kan eet” tydens hul swangerskap is welbekend en het party vroue oortuig om meer te eet as hul verwag is in die haak omdat dit goed vir die baba is. Daar is egter dié wat weet dis glad nie die geval nie en ’n totale gewigstoename van tussen 11kg en 15kg word oor die nege maande aanbeveel.

Nie net is dit nie raadsaam om te veel gewig tydens swangerskap aan te sit nie, maar dit kan ook vroue met ernstige probleme vir die res van hul lewens laat.

Daar is in ’n studie van vrugtevlieë, wat soortgelyke verteringstelsels as mense het, bevind dat die verteringstelsel tydens swangerskap beter werk – en dat dié doeltreffendheid beteken daar word meer energie uit kos geabsorbeer, danksy ’n hormoon – wat ’n bietjie werk soos die skildklier – wat ná paring vervaardig word en werk om vet te stoor.

Die navorsing dui daarop dat hierdie veranderinge in plek bly wanneer die baba gebore word, en dit kan dalk ’n rede wees hoekom ma’s soms sukkel om die babagewig af te skud.

“Daar is in vorige studies bevind om vir twee te eet tydens vroeë swangerskap is onnodig,” het die hoofwetenskaplike dr. Irene Miguel-Aliaga van die Mediese Navorsingsraad se Kliniese Wetenskapsentrum in Londen, aan die joernaal eLife gesê.

“Ons navorsing dui daarop dat dit gebeur omdat die spysverteringstelsel reeds die eise vooruitloop wat die groeiende baba op die liggaam sal plaas.”

Die idee is dat aangesien vroue se hormone op ’n soortgelyke wyse as vlieë funksioneer, dit nie sal stabiliseer wanneer sy die lewe aan haar baba geskenk het nie en haar liggaam sal aanhou vasklou aan meer kalorieë as wat sy benodig. Dit verklaar ook hoekom dit nie reg is om “vir twee te eet” nie – die liggaam is reeds so aangepas om die ongebore kind voldoende te ondersteun.

Die jongste mediese riglyne is dat verwagtende ma’s slegs hul kalorie-inname met 200 moet vermeer tydens die laaste trimester. Matige oefening word ook aanbeveel, soos om vir 30 minute te stap of swem per dag as jy gewoond is aan oefen, of drie sessies van 15 minute per werk as jy nie gereeld oefen nie.

Volg ’n gesonde dieet, wat aartappels, brood, rys en pasta in elke ete insluit, kry genoeg vesel en vermy gebraaide kos en eet eerder vrugte en groente.

Dié riglyne is belangrik omdat vetsug tydens swangerskap talle gesondheidsrisiko’s, soos diabetes, miskraam, bloedklonte en pre-eklampsie, inhou.

© Cover Media