ONS almal het grootgeword met speletjies waar die goeie teen die bose te staan kom. Die cowboy teen die Indiaan of die polisieman teen die rower. In hierdie scenario’s sou die held of heldin telkens met ’n brawe houding ’n wapen dra om hom- of haarself te beskerm.

Maar watter impak kan dit op lang termyn op kinders se gedrag hê as kinders met gewelddadige wapens soos messe en gewere speel?

“Kinders gebruik speelgoed om hul eie emosies uit te beeld,” verduidelik Retha Kruger, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. “Hulle sien goed raak in hul alledaagse lewe en wil dit dan uitbeeld, maar omdat hulle nog nie die nodige taalvaardighede het nie, word speelgoed ingespan.”

Dit sluit meermale gewelddadige wapens in. Maar wat staan ouers te doen wat bekommerd is dat dit hul kinders se gedrag negatief kan raak?

“ ’n Kind wat met gewere speel, gaan beslis nie outomaties gedragsprobleme ontwikkel of eendag gewelddadige neigings toon nie,” verseker Retha. “Gewelddadige speletjies, veral rekenaarspeletjies, kan kinders wel aggressiewer maak.”

Die eenvoudige oplossing is om hul blootstelling aan geweld in rekenaarspeletjies en op televisie te beperk. “Ouers besef nie altyd hoeveel geweld in strokiesprente en self animasiefilms is nie. Ouerdomsbeperkings moet beslis in ag geneem word.”

Kyk byvoorbeeld na Tom & Jerry waar Jerry Tom gereeld opblaas en Tom basies uit sy pad uit gaan om Jerry dood te maak.

“Kinders leer gedrag deur waar te neem en hulle moduleer wat hulle sien,” verduidelik Retha. “Hulle sal van nature aanklank vind by superhelde wat emosies gaan aanwakker as hulle ook, nes Spider-Man en Superman, die dag wil red.” As deel van die speelproses sal die kind dan ook ’n wapen wil gebruik om sy idee van hoe die superheld optree, so akkuraat as kan uit te beeld.

“ ’n Kind onderskei nie tussen wat die werklikheid is en wat fantasie is soos ons nie,” sê Retha. “Hulle sien bloot ’n superheld wat ’n boef inloop. Die superheld gebruik ’n wapen. Hulle wil daarom ook ’n wapen gebruik.”

Maar wat staan ouers te doen? “Soos enigiets moet kinders se blootstelling aan geweld beslis gereguleer word,” sê Retha. “As jy sien jou kind swaai wapens rond of tree gewelddadig op, moet jy ingryp.”

Vra jou kind waar hy die gedrag gesien het en hoekom hy doen wat hy doen. “Kinders leef hulself so in karakters in dat hulle soms nie besef wat hulle doen nie.

“Hoe meer hulle aan geweld blootgestel word, hoe meer gaan dit hulle beïnvloed,” sê Retha. Daarom stel sy voor dat ouers saam met hul kinders na strokiesprente kyk om te sien of die geweld daarin nie dalk ’n onvoorsiene invloed op hulle kag uitoefen nie.

“Ouers kan natuurlik ook kinders se toegang tot die gewelddadige speelgoed inperk en hulle eerder met goed soos blokkies of dierespeelgoed laat speel. Gebruik kuns, teken of rolspel om jou kind sy emosies te help uitdruk.”

Is seuns meer geneig tot gewelddadig speel as meisies? “Die meeste van die helde wat kinders op televisie sien, is mans; daarom sal seuns neig om hierdie gedrag meer na te boots as meisies,” sê Retha.

Meisies reageer volgens haar anders, want in strokiesprente wat meer op hulle gemik is, soos byvoorbeeld die Barbie-reeks, is die geweld beslis minder.

Die beste ding wat ouers vir hul kinders kan doen, is om ’n gebalanseerde benadering te volg en op te let aan hoeveel geweld hulle hul kinders blootstel. “Dit gaan nie help ouers vermy gewelddadige speelgoed heeltemal nie, want ’n kind sal dan net van ’n piesang ’n geweer maak. Probeer eerder ander speelgoed inbring sodat die kinders hul emosies effektiewer kan uitleef,” sê Retha.

- Petrus Malherbe