Borsvoeding word algemeen geprys vir die voordele wat dit vir sowel ma as kind inhou.

In ’n verslag wat onlangs in die British Medical Journal verskyn het, word aangevoer strenger maatreëls is nodig om die babas te beskerm en dat ma’s ingelig moet word oor die gevare van borsmelk aanlyn koop. Daar word ook gevra dat dié melk vir siektes soos MIV, hepatitis B en C en die leukemievirus getoets word.

'Melk wat aanlyn gekoop word, is nie die ideaal nie, en stel babas bloot aan mikrobiologiese en chemiese stowwe.'

Navorsing oor die kwessie onderskryf kampvegters se pleidooie vir strenger regulering, en in ’n studie wat in 2013 onderneem is, het bevind 21 persent van melk wat aanlyn gekoop word bevat ’n soort herpesvirus genaamd sitomegalo. Dié virus kan die immuunstelsel geweldig beskadig as dit ingeneem word.

’n Ander eksperiment het getoon 92 uit 101 borsmelkmonsters is met bakteriese groeisels besmet omdat dit nie behoorlik gepasteuriseer is nie. Borsmelk wat van ver bestel en per skip vervoer word, word dikwels ook in die proses beskadig.

Boonop kan vervaardigers maklik ander bestanddele by die sogenaamde borsmelk voeg, en ma’s kan nie altyd seker wees die borsmelk is suiwer en nie besmet met koei- of sojamelk nie.

“Ons navorsing wys 75 persent van ma’s soek aanlyn wanneer hulle ’n vraag of probleem het met hul kind se voeding,” sê die Eenheid vir Wêreldgesondheid, Beleid en Innovasie by die Queen Mary-universiteit in Londen.

“Ma’s soek gereeld inligting op die internet, dikwels omdat hulle skaam is of voel hulle misluk as ma’s as hulle hulp vra, of eenvoudig omdat hulle uitgeput is.

“Melk wat aanlyn gekoop word, is nie die ideaal nie, en stel babas bloot aan mikrobiologiese en chemiese stowwe. Daar moet dringend iets gedoen word om die mark veiliger te maak.”