’n Leser het onlangs dié vraag aan ons gestuur:

Haai. My vierjarige dogter is bang vir amper alles. Sy’s bang om klere oor haar kop te trek, bang dat water oor haar gesig loop (ek moes ’n spesiale pet koop wat verhoed dat die water in haar gesig afloop) en sy raak baie bang wanneer sy nie my of my man kan sien nie. Sy het gevolglik ophou op haar eie slaap en raak skaars aan haar speelgoed omdat sy net in haar kamer sal wees solank ons ook daar is. Ek is nie seker of dit normale gedrag is en wat ek moet doen om haar te help om die vrese te oorkom nie.

Ons het gevra Lianna Morrison, ’n opvoedkundige sielkundige van Hermanus, moet ’n paar moeilike vrae oor kindervrese beantwoord.

Hoe gemaak as jou kleuter altyd bang is?

Hoewel ons as volwassenes weet daar skuil geen monsters onder die bed nie, weet jou kleinding dit nie. Deur jou kind se gevoelens te erken en hom nie daaroor te spot of dit te vererger nie, help jy hulle om sin van hul ervarings te maak. Jy maak nie jou kind taaier as jy lag vir sy vrees vir byvoorbeeld hansworse nie, maar leer hulle eintlik net dat jy nie waarde aan hul gevoelens heg nie.

Identifiseer wat jou kind se vrees veroorsaak en verduidelik dan vir hom hoe dit werk. As jou kind byvoorbeeld bang is vir ’n harde geluid, kan jy vir hulle verduidelik dis hoe die masjien werk, en dis normaal om die geluid te maak; daarom is daar geen rede tot kommer nie. Onthou, baie ervarings wat ons as volwassenes as vanselfsprekend aanvaar, is nuut vir jong kinders. En omdat baie van die ervarings onbekend is, word dit beskou as skrikwekkend tot dit verduidelik word en hulle dit verstaan. As jy jou kind aanmoedig om geleidelik hul vrese te oorkom en hul pogings prys om dit te doen, help jy bou aan jou kind se geloof in sy vermoëns. So moet ’n gesprek oor hul vrese min of meer verloop: “Jy is bang vir die harde geluid, en wanneer kinders en grootmense bang is, klop ons hart vinnig, ons handpalms raak sweterig en wil ons weghardloop. Wat jy nou voel, is wat almal voel wanneer hulle bang is. Kom ons haal diep asem, sê vir onsself ons is dapper en dat ons oukei gaan wees. Kom ons kyk dan of daar regtig enigiets is om voor bang te wees. Wat dink jy het daardie harde geluid veroorsaak?”

Hoewel ons as volwassenes weet daar skuil geen monsters onder die bed nie, weet jou kleinding dit nie.

Hoe kom jy by die wortel van die vrees uit?

Ons almal is op die een of ander manier bang vir iets, of ons vier, 40 of 80 jaar oud is. Om bang vir die donker, monsters onder die bed en vreemdelinge te wees is alles algemene kindervrese, terwyl ’n vrees vir hoogte, spinnekoppe of werkloosheid by volwassenes kan voorkom. Met ander woorde, party is gepas vir hul ontwikkeling en ander gebeur weens ons ervaring, verhoudings of temperament. Daarby kan ouers (en ander versorgers) ook ’n belangrike rol in die ontwikkeling (of nie) van ’n kind se vrese speel.

As ons as volwassenes angstig of bang rondom ons kinders is, sal hulle leer die wêreld is ’n skrikwekkende plek en daarvolgens reageer. Ouerskapstyl kan ook ’n rol speel deur onwetend ’n kind se vrese aan te moedig deur te veel aandag te skenk aan die ervaring wat die vrees veroorsaak, in plaas van om die kind se vaardighede om dit te hanteer te versterk. So leer ons hulle dat hulle nie sterk genoeg is om hul vrees te oorkom nie.

As jy dus probeer vasstel wat jou kind se vrese veroorsaak het, is dit nuttig om jou die volgende af te vra:

  1. Is dit ’n tipiese vrees vir my kind se ouderdom/ontwikkelingstadium?
  2. Is dit die eerste keer dat my kind die gevreesde voorwerp/ervaring moet hanteer? Verstaan hulle wat dit is?
  3. Het my kind onlangs ’n ervaring beleef waar daar ’n ware bedreiging of gevaar was?
  4. Hoe reageer ek as ouer/broer/suster op my eie vrese of vreesaanjaende ervarings?
  5. Hoe hanteer ons as gesin ons kind se vrese? Moedig ons dit onwetend aan?

Moet jy terapie oorweeg?

Terapie kan nuttig vir die kind en sy/haar ouers wees as die vrees met daaglikse aktiwiteite inmeng en as ouers voel hulle kan nie die kind se vrese en gevolglike gedrag hanteer nie. Terapie kan kinders help om hul emosies te verstaan en hulle help om hul ervarings te verwerk en beter vaardighede aan te leer om dit te hanteer. Sielkundiges kan ouers ’n beter begrip gee van wat presies in hul kind se wêreld aangaan, en hoe om dit op proaktiewe te hanteer.

Is dit normaal vir kleingoed om vrese te hê?

Dis heeltemal normaal vir kinders om vrese te hê, en daar is algemene vrese wat regdeur die deursnee-kind se ontwikkeling voorkom. Dis nie net normaal om sekere vrese te ervaar nie, maar ook nodig omdat dit ons teen gevaar beskerm. Kindervrese is gewoonlik matig, kortstondig en ouderdomspesifiek.

Ouderdom Voorbeelde van tipiese vrees/vrese (Herbert, 1994)

  1. Babas Verlies van ondersteuning, harde geluide, vreemdelinge, dreigende voorwerpe
  2. Een tot twee jaar Skeiding van ouers en vrees vir vreemdelinge
  3. Drie tot vier jaar Die donkerte, om alleen gelaat te word, klein diere en insekte
  4. Vyf tot ses jaar Wilde diere, spoke en monsters
  5. Sewe tot agt jaar Vrese oor skool, bonatuurlike gebeure en fisieke gevaar
  6. Nege tot 10 jaar Sosiale vrese, vrese oor oorlog, gesondheid, ligaamlike beserings en skoolprestasie

Daar is natuurlik ook vrese wat ontwikkel weens ’n vreesaanjaende voorwerp of ervaring. As jy jou kind se vrese toepaslik hanteer, kan jy verhoed dat hulle ’n fobie daaroor ontwikkel.

Wanneer raak vrese problematies?

Kinders het nie altyd die woordeskat of vermoë om hulself uit te druk nie. Emosies soos woede, hartseer en selfs pyn kan dalk as vrees geïnterpreteer word. Vrese kan vererger, verlammend raak of in fobies ontwikkel as dit nie behoorlik aangespreek word nie. Hier is die waarskuwingstekens waarna ’n mens moet uitkyk:

  • Die vrees is uit verhouding met die gevaar of bedreiging.
  • Dit kan nie weggeredeneer word nie.
  • Dit lyk of dit buite die kind se beheer is.
  • Dit lei tot vermyding van die voorwerp of situasie.
  • Duur voort oor ’n lang tydperk.
  • Is ’n wanaangepaste reaksie en nie geskik vir hul ontwikkelingstadium nie.
  • Hulle begin veralgemeen – die kind was eers net bang vir ’n spesifieke hond se geblaf, en dit brei uit tot alle honde en daarna tot enigiets wollerigs, ensovoorts. In so ’n geval het die vrees die oorhand gekry en moet dit aandag kry.
  • Hou ook in gedagte dat party kinders sensories-sensitief is en wat lyk soos ’n vrees vir ’n stofsuier, kan dalk ’n geval wees van die stofsuier se geluid wat hul ore seermaak.

Hoewel vrese ’n natuurlike deel van ontwikkeling is, hoef bang wees nie deel daarvan te wees nie. As jy vir jou kind goeie oorlewingsvaardighede aanleer, na hulle luister en deernisvol en proaktief reageer, kan jou kind hul vrese oorkom en die lewe se uitdagings met ’n gesonde uitkyk hanteer.

-Roxanne Eastes