Kaapstad – ’n “Baie klein hoeveelheid” McDonald’s  klante het gekla oor ’n pratende Minion-speelding wat saam met ’n kindermaaltyd te koop is, het die kitskosreus Dinsdag gesê.

Die Minion Caveman was onlangs in die nuus ná gerugte dat dit “What the *!%#” sê nadat die speelding aangeskakel word.

Sechaba Motsieloa, ’n woordvoerder vir McDonald’s,  het aan News24 gesê hulle het Saterdag  ’n klag van ’n Wes-Kaapse klant gekry “weens die wanopvatting dat die Caveman Minion in Amerika van die mark afgehaal is”.

Die Minion is egter nie in Amerika van die rak af gehaal nie. Die woordvoerder het nie verder uitgebrei nie.

Die speelding maak drie geluide; “para la bukay”, “hahaha” en “eh eh”.

Die firma sê bewerings dat dit iets aanstootlik of vulgêr sê is vals.

“Ons vra omverskoning vir enige verwarring of aanstoot wat geneem is deur diegene wat die speelding se klanke misverstaan het.”

Die klein geel gediertes het die eerste keer aandag getrek toe hulle in die kinderfliek Despicable Me verskyn het as assistente vir die hoofkarakter, Gru. Hulle is gewild onder kinders en ’n fliek, Minions, is onlangs oor hulle gemaak.

Die eerste stel Minions-speelgoed is op 10 Julie in restaurante bekendgestel, sê McDonald’s.

Die Minions sal tot 10 Augustus saam met etes gegee word.

News24