Skole landwyd sal binne die volgende paar weke met die eksamen begin. Die rekordeksamen maak deel uit van leerders se jaarpunt, wat 25 persent van die finale punt aan die einde van die jaar tel.

Die ander 75 persent bestaan uit die punt wat hulle in die eksamen behaal.

Verskillende provinsies bepaal presies wanneer skole met die eksamen begin, sê Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale departement van basiese onderwys. “Die nasionale onderwysdepartement het tydperk uiteengesit wat vereis dat dit voor die einde van Augustus begin en teen die einde van September afgehandel word.

Nick Hiltermann, stigter van Cape Town Tutors, sê die rekordeksamen is belangrik omdat dit die punt is waarop matrieks voorlopige toelating tot universiteite en akademiese inrigtings kry.

“As jy nie in jou rekordeksamen goed vaar nie, maar wel in jou matriekeksamen, sal jy dalk ’n hele jaar moet wag voor jy toelating tot ’n universiteit kan kry.”

Graad. 12-leerders in verskillende provinsies skryf dieselfde vraestelle, behalwe in die Wes-Kaap waar dit deur onderskeie skole opgestel word. In die res van die agt provinsies word vraestelle deur die provinsiale departemente opgestel en deur die nasionale onderwysdepartement gemodereer.

Soos in die eindeksamen, skryf alle gr. 12-leerders dieselfde vraestelle. Dit word opgestel deur onderwysers wat deur die onderwysdepartement gekontrakteer is.

Nick sê matrikulante moet ook onthou dis ’n goeie geleentheid om “te oefen” vir die eindeksamen, wat in Oktober begin en tot Desember duur.

Elijah beaam dit en sê die eksamens gee onderwysers die geleentheid om areas te bepaal waarmee leerders sukkel en ekstra aandag daaraan te gee.