“Die versoeking is daar om hierdie eksamen as onbelangrik af te skryf, aangesien die meeste leerders reeds aansoek tot tersiêre instellings met hul vorige uitslae gedoen het,” sê dr. Felicity Coughlan, die direkteur van die Onafhanklike Instituut van Onderwys.

“Ander het hul fokus verskuif na die eindeksamen as hul laaste kans om die punte te kry vir toelating tot sekere programme,” sê sy.

Maar die voorlopige eksamen vervul ’n baie belangrike funksie, en matrikulante moet dit so ernstig ag soos hul eindeksamen.

“Onthou, al het jy voorwaardelike aanvaarding van ’n instelling, kan dit steeds teruggetrek word. Jy sal steeds op die uitslae van jou voorlopige eksamen moet staatmaak vir plasingsdoeleindes; jy moet onthou jou uitslae dra tog by tot jou jaarpunt,” sê sy.

Maar die voorlopige eksamen se belangrikste funksie is die geleentheid om jou kennis van die afgelope 12 jaar te konsolideer. Dit gee matrikulante ook die nodige gemoedsrus om hul eindeksamen ontspanne en verfris binne te gaan, en dit kan ’n groot verskil in die kandidaat se uitslae maak.

“Behandel hierdie eksamen as ’n maatstaf van waar jy is, en gebruik dit as ’n waardevolle hulpbron in die voorbereiding vir die eindeksamen,” sê dr. Coughlan.

Sy sê leerders kan so die voorlopige eksamen op verskeie maniere gebruik om kennis en strategie te verbeter:

  • Die konsolidasie van studiemetodes.
  • Leer beter streshanteringsmetodes.
  • Toets hoe lank dit werklik duur om dele werk onder die knie te kry sodat die leerder se finale studeerplan akkuraat is rakende hoeveel tyd vir hersiening nodig is.
  • Ontwikkel die notas – soos breinkaarte en annotasies – wat nodig is vir die eindeksamen.
  • Stig studiegroepies waar eweknieë van mekaar kan leer.

“Gebruik hierdie eksamen om jou kennis te konsolideer en die gapings in jou benadering raak te sien terwyl daar nog tyd is om hulp te kry,” sê dr. Coughlan.

“Onthou, jy kan dieselfde (in ’n groep of alleen) uitrig met ou vraestelle – dit is ’n wonderlike manier van studeer. As jy goed vaar, moet jy dit gebruik as aanmoediging om meer te doen, nie slap te hang nie.

“Maar bly kalm en identifiseer die dele waarmee jy sukkel as jy nie goed vaar nie. Dié eksamens is ’n wonderlike geleentheid vir jou om te verbeter terwyl jy nog tyd het.

“En baie belangrik, onthou om  die faktore in gedagte te hou wat jou geestelike en fisieke welstand ’n hupstoot gaan gee; beoefen ook stresbestuur, oefen, eet reg en kry genoeg slaap. Jy het net een kans met jou eindeksamen, maar die voorlopige eksamen is jou toetslopie. Jy kan die veranderinge maak terwyl daar nog tyd is. Jy kan dan ook beter in die eindeksamen vaar, wat oor net ’n paar maande begin.”