Dit is die siening van Gardiol van de Venter, ’n sielkundige berader verbonde aan die Hoërskool Linden in Johannesburg. Gardiol meen die eerste ding wat matriekleerders moet doen ter voorbereiding vir die belangrike en lewensveranderende eindeksamen is om ’n kopskuif te maak.

“Verwonder jou aan jouself. ’n Positiewe ingesteldheid of houding lei tot die afskeiding van die regte hoeveelhede chemiese stowwe in jou brein, wat help met jou studie en algemene gevoel van welbehae,” sê sy.

Huisgenoot het kenners vir hul topstudiewenke gevra om sukses agter die boeke te behaal.

Gardiol se wenke:

1. Orden jou werk in netjiese hopies

“Jou brein wil in beheer voel en weet wat voorlê. Sit byvoorbeeld elke vak se handboeke, opsommings en take alles op ’n hopie. Wanneer jy by jou lessenaar gaan sit, weet jy dus: nou gaan jy aardrykskunde leer. Werk so deur jou hopies en nadat jy elke vak geskryf het, pak die hopie in ’n groot boks en sien hoe jy stadigaan deur alles werk.

2. Moenie op jou bed lê en leer nie

Navorsing toon jy presteer beter in die eksamen as jy jouself agter ’n lessenaar inrig. Wanneer jy moeg is, stel jou wekker en slaap vir ’n uur – vertel jouself jy gaan rustig slaap, opstaan en verder leer. Jou gemoed is ontspanne en jy slaap vas. Wanneer jy wakker word, drink ’n glas vrugtesap verdun met water of rooibostee en leer verder.

3. Leer die definisies en kernwoorde goed

Vertel die res van die werk vir jouself in jou eie woorde om seker te maak jy verstaan.

4. Leer meer

Na afloop van die eindeksamen wil jy vir jouself kan sê jy het soveel as moontlik, so hard as moontlik geleer, sodat jy nie later spyt is en wonder of jy nie meer moes geleer het nie. Gebruik elke dag ten volle om ook oor naweke ekstra te leer en uitstappies te beperk. Die somervakansie lê om die draai dan hoef jy vir ’n paar dae niks te doen nie.

5. Beweeg genoeg

Terwyl jy leer, stap op en af met die trap of in die tuin. Haal diep asem en rol jou skouers – kry die bloedsomloop aan die gang sodat die brein vars is vir die volgende 40 minute se werk.

Ernest Bovey, onderwyser in fisiese wetenskap met meer as 40 jaar ervaring, verbonde aan die Alpha Academy of Knowledge in Pretoria:

1. Begin vroegtydig

’n Mens kan nie die aand voor ’n eksamen begin leer nie. As jy dit doen, berg jy inligting in jou korttermyngeheue. Die deel van jou brein kan nie groot hoeveelhede inligting berg nie. ’n Mens moet ten minste ’n maand voor die groot eksamen begin leer. Laat genoeg tyd vir hersiening.

2. Wissel vakke af

As jy eers ’n syfervak geleer het soos wiskunde, wetenskap of rekenkunde, vervang dit met ’n nie-syfervak soos tale of lewenswetenskap.

3. Kies jou tyd

As jy ’n oggendmens is, staan vieruur op, maak koffie en spring aan die werk. As jy ’n aandmens is, vang ’n middagslapie, begin agtuur in die aand en werk na middernag toe.

4. Koop boeke met ou vraestelle en antwoorde in

As ’n mens vir die eerste keer in ’n eksamen ’n vraag teëkom is die vraag ’n probleem. As jy honderde soortgelyke vrae uitgewerk het, is jou eksamenvraag net nog ’n vraag.

5. Vorm ? studiegroep met produktiewe medeleerders

Pasop dat die studiesessie nie in ’n sosiale samekoms ontaard nie. As jy werk, werk jy.

Richard McIntyre, hoof van wiskunde by die aanlyn onderwyswebtuiste Top Dog:

1. Musiek of stilte

Gebruik toepaslike studiehulpmiddels om jou te help konsentreer. As jy goed met musiek aan leer, kies rustige musiek sonder woorde. As jy stilte nodig het, kry ’n plek weg van geraas.

2. Die groter prentjie

As dit jou gaan help om jou werk as ’n geheel te sien, gebruik ’n witbord om opsommings op te maak.

3. Neem ’n ruskans

Die gemiddelde tiener se konsentrasievermoë is 14 minute aaneen. Moenie ure aaneen leer nie. Neem elke 10 tot 20 minute ’n kort ruskans.

4. Is jy ’n visuele of ouditiewe leerder?

As jy visueel ingestel is, gebruik kleur, organogramme, mind maps en prente om jou te help om die werk te onthou. Gebruik kleurpotlode en penne om konsepte met kleure te verbind. As jy meer op jou gehoor ingestel is, neem jou opsommings op jou selfoon op en speel dit vir jou oor jou oorfone terug.

Al drie dié kenners is dit eens jy moet kry wat vir jou werk om doeltreffend te leer. Begin vroegtydig, slaap genoeg en maak seker jou konsentrasie bly skerp. Hoe beter en doeltreffender jy leer, hoe minder sal jou angsvlakke voor die dag wees. Dink positief en weet jy kan dit doen, veral ná 12 jaar se dissipline en toewyding is dit nou die tyd om uit te blink.