Die laaste matriekvraestel word oor net meer as ’n week geskryf. Dr Felicity Coughlan, direkteur van die Onafhanklike Instituut vir Opvoeding deel wenke met matrieks oor hoe om gemotiveerd te bly vir die laaste paar vraestelle.

student moeg swot

In ’n wêreld van kitsbevrediging vereis die maand tot ses weke wat vir die matriekeksamen opsygesit word, ’n taaiheid van skoolverlaters waarop die res van hul opvoeding hulle nie noodwendig voorberei het nie.

Die betreklike vryheid van hierdie tydperk kan teenproduktief wees, want leerders laat vaar die veiligheid wat geskep is deur ’n roetine wat ander bestuur het. Veral wanneer hulle die halfpadmerk verbysteek wat geskryfde vraestelle betref, kan die aanloklikheid van die komende vakansie en vierings maklik jong mense se aandag aflei. Boonop kan angs of wanhoop oor vraestelle wat nie goed verloop het nie, die vasbeslotenheid ondermyn om toegespits te bly.

Met dié dat baie skole nou gr. 10- en 11-leerders toelaat om by die huis te leer, het die leerders en hul gesin goeie eerstehandse kennis gegrond op vorige jare van hoe goed die leerder die vereiste selfdissipline kan handhaaf (of nie).

Daardie kennis behoort te lei tot strategieë vir die volgende drie weke die konsentrasie te behou. Hierdie strategieë sluit die voor die hand liggende in, soos ’n studierooster, maar ook gereelde hersiening van vordering en produktiewe geleenthede om tydgenote oor vordering te raadpleeg.

Jong volwassenes het hul tydgenote nodig, en ’n algehele verbod op hierdie interaksie sal lei tot vele vermorste ure van die gebruik van sosiale media en ander kommunikasiemiddele om in aanraking te bly.

“Namate die lys vakke wat jy nog moet skryf, korter word, moet jy nie in die versoeking kom om te gou te ontspan nie,” sê dr. Felicity Coughlan, die direkteur van die Onafhanklike Instituut van Opvoeding.

“Hou op stres oor die vakke wat jy klaar geskryf het. Daar is niks meer wat jy aan die uitslae kan doen nie. Maar behou jou fokus tot reg aan die einde, veral vir die sogenaamde makliker vakke wat dikwels na aan die einde van die eksamenrooster geskryf word,” sê sy.

“Elke vraestel, tel en jy moet tot die bittereinde jou bes lewer.”

Felicity herinner leerders daaraan dat die kies van een of twee vakke vier jaar gelede wat vir hulle makliker is, ’n weloorwoë deel van hul strategie was – in daardie stadium het hulle die vakke ingesluit om toegang tot redelike maklike “punte” te kry om hul groottotaal op te stoot en hul kans te verbeter om tot kursusse toegang te kry. Daardie strategie moenie nou laat vaar word nie.

“Moenie oor die laaste hekkie struikel en daardie punte verbeur nie. Die einde van November sal aanbreek en daarmee saam die einde van jou skoolloopbaan. Maar nou moet jy onthou dat al wat moet saak maak, is dat jy die heel beste punte kry wat jy kan tot jy jou pen neersit nadat jy jou laaste vraestel geskryf het.

“Daar is niks meer wat jy kan doen aan hoe jy begin het nie. Dit gaan nou net oor hoe jy klaarmaak,” sê sy.

Felicity sê matrieks kan in die volgende drie weke gefokus bly deur:

  • Nie terug te kyk nie. Gedane sake het geen keer nie, en elke vraestel moet benader word as ’n afsonderlike kans om jou bes te lewer.
  • Te sorg dat hulle gesond eet en genoeg slaap en oefening kry.
  • By hul leerprogram te hou en selfs ’n bietjie meer in te sit deur byvoorbeeld ’n ekstra uur of twee opsy te sit om nog ’n kamma-vraestel uit te werk.

“’n Paar ekstra punte kan in die arbeidsmark dalk die verskil wees tussen jou aansoek om ’n pos en dié van jou mededingers. Dit kan ook die verskil wees tussen aanvaarding vir ’n kursus van jou keuse of soek na alternatiewe. Oor ’n paar dae sal jy niks meer kan doen aan die matriekpunte wat jou lewenslank gaan vergesel nie.

“Sit nou die tyd in en hou tot heel aan die einde uit, en jy sal vind jou fokus en ekstra moeite sal die geskenk wees wat lewenslank aanhou gee.”

Felicity CoughlanDr. Felicity Coughlan is die direkteur van die Onafhanklike Instituut vir Opvoeding