• Maak seker jy het al die skryfbehoeftes wat jy tydens die eksamen gaan nodig kry (pen, potlood, liniaal, sakrekenaar, gradeboog en uitveër). Sit altyd ’n ekstra pen in jou potloodsakkie vir ingeval joune opdroog.
  • Wees vroeg by die eksamenlokaal. As jy laat is, kan dit jou paniekerig maak. Doen iets wat jou rustig maak; gesels met vriende of gaan sit 5 minute alleen.
  • Lees deur die hele eksamenvraestel in die tyd wat daarvoor gegun word.
  • Beplan hoeveel tyd jy aan elke vraag wil afstaan en doen jou bes om daarby te hou. Gun jou sowat 20 minute aan die einde van die vraestel sodat jy jou antwoorde kan deurlees.
  • Beantwoord die maklike vrae eerste. As jy te lank by een vraag vashaak, beweeg aan na die volgende een.
  • Moenie paniekerig raak as jy nie dadelik ’n vraag kan beantwoord nie. Gaan aan na ’n volgende vraag, maar gun jou genoeg tyd om na die vraag terug te keer.
  • Nommer jou vrae korrek. Jy kan dalk al die punte vir ’n vraag kwyt wees as jy jou vrae verkeerd nommer.
  • Lees die vrae aandagtig. Moet jy verduidelik, beskryf, vergelyk of lys? Dit is veral belangrik wanneer jy opstelvrae beantwoord.
  • Beplan jou antwoorde vir opstelvrae. Breinkaarte werk nie vir almal nie, maar jy moet beplan wanneer jy langer vrae beantwoord. Maak ’n kriptiese lysie of skryf die hoofgedagtes van jou argument neer. Dit sal baie help om jou op die regte spoor te hou.
  • Skryf so netjies moontlik en gee aandag aan spelling, taalgebruik en leestekens.
  • Loop ’n draai voor die eksamen en neem ’n bottel water saam na die eksamenlokaal. Dehidrasie kan jou konsentrasievermoë benadeel.
  • Gun jouself genoeg tyd aan die einde van die vraestel sodat jy weer deur jou antwoorde kan lees. So sien jy dalk klein foutjies raak en kan jy vrae beantwoord waarby jy nie vroeër uitgekom het nie.
  • As dit jou gaan ontstel, moenie ná afloop van die eksamen die vraestel met jou vriende bespreek nie. Dis nou verby; konsentreer liewer op die voorbereiding wat jy vir die volgende eksamen moet doen.

As jy internettoegang het, besoek Huisgenoot.com en laai vraestelle af wat jy as voorbeelde kan uitwerk.

Bron: Huisgenoot 30 Oktober 2008