Die laaste paar weke sien jy ál minder van jou matriekkind. Hy is pal agter die boeke en die leeslamp in sy kamer is tot laat saans aangeskakel. Dis omtrent net met etes dat hy uit sy kamer ontwaak – die laaste voorbereidngs vir die matriekeksamen het jul huis byna in ’n begraafplaas verander so stil is dit. Jy kan jou kind deur hierdie uitdaging ondersteun – ons gee raad.

  • Wees positief. Moedig jou kind aan en beklemtoon dit wat hulle reg doen, eerder as dit wat hulle verkeerd doen. Mense presteer beter as hulle goed voel oor hulself.
  • Erken dat jou kind stres ervaar. Moedig hulle aan om daaroor te praat en luister sonder om te kritiseer.
  • Bly kalm, veral as jy self stres!
  • Jou kind moet besef die eksamen is belangrik, maar dit is selfs meer belangrik dat hulle weet hulle is belangriker as die eksamen. Hulle moet weet hulle is geliefd en word gewaardeer, al gebeur wat.
  • Wees realisties oor die uitkoms. Jou kind moet weet jy verwag dat hy sy bes doen – niemand kan meer as dit doen nie.

As jy toegang het tot die internet, laai eksamenvraestelle af wat jou kind as voorbeelde kan uitwerk op Huisgenoot.com.

Bron: Huisgenoot 30 Oktober 2008