Maak seker by wie jy jou kind los, al lyk hulle soos die “Oupa” en “Ouma” van langsaan. .

Twee ma’s, een bruin en een wit, is verenig in hul smart oor hul kinders wat “op so ’n jong ouderdom, voor hulle nog drie jaar oud was, met seks te doen gekry het”.

“Gelukkig is die saak teen my laat vaar,” vertel Meegan Arendse*, ma van ’n dogtertjie wat pas drie jaar oud geword het.

Die eienares van die dagsorgsentrum waar sy was, het ’n interdik teen haar gekry omdat sy “onveilig”gevoel het omdat Meegan oor haar kind se aanranding met die media praat.

Drie weke voor die voorval op 18 April vanjaar het haar dogtertjie begin kla haar privaat dele is seer.

“Die seuntjies by die skool het my eina gemaak,” het sy gehuil. Sy het die kind dadelik hospitaal toe geneem, maar daar was blykbaar nie toe al duidelike tekens van seksuele geweld nie.

“Ek het maar gedink dit is haar Kimby wat ’n infeksie veroorsaak het,” onthou Meegan.

Maar daardie Maandag toe sy haar by die skooltjie gaan haal, het die meisie haarself natgemaak toe sy by die huis instap en kamer toe hardloop om in die kas weg te kruip.

“Haar potjie het reggestaan. Daar was geen rede waarom sy haar benat het nie.”

Haar dogter wou ook nie hê dat sy haar was nie; dit was vir haar te seer.

Meegan het haar dieselfde dag na die polisiekantoor geneem. Hulle het haar verwys na ’n organisasie in die Helderberg wat kinders wat moontlik slagoffers van seksuele mishandeling is, bystaan met terapie en ook tydens die hofsaak. Die tweejarige het egter nog nie die taal gehad om vertel presies wat met haar gebeur het nie.

Tydens ’n doktersondersoek is vasgestel daar is ’n ou wond voor en ’n vars wond agter wat op penetrasie dui. In daardie stadium was daar geen bewyse wie dit moontlik by die dagsorgsentrum kon doen nie.

“Ek het die plek vertrou, want my broer se dogtertjie was ook daar. Dis goedkoop en naby my pa, haar oupa, se werk ingeval iets gebeur. Toe gebeur iets, maar niemand het enigiets laat weet nie,” vertel Meegan, ’n enkelma wat dag- en nagskofte moet werk.

As sy nou terugkyk, was daar moontlike gevaartekens.

“Voor die tyd kon sy alles praat. Sy kon die kinders se name by die skooltjie noem en selfs wat die juffrou geëet het vir middagete,” vertel Meegan.

Sy was skielik teruggetrokke. Dis haar enigste kind en slaap by haar. “Sy word nie wakker nie, maar baklei teen my as sy nagmerries kry.

“Sy het my klere begin byt en aan haar moue begin kou. Sy het my selfs begin klap, iets wat sy nooit voorheen gedoen het nie,” vertel Meegan.

“Het jou seuntjie ook begin aggressief raak?” vra sy vir Riana Erwee*, wat oorkant haar sit hier in ’n koffiewinkel in die Strand.

“Ja, my seuntjie het,” vertel Riana. Sy het van Meegan se hartseer in die koerante gelees en ’n paar maande gelede met haar kontak gemaak. Sedertdien ondersteun hulle mekaar.

“Omdat ons kinders so jonk is, het hulle nog nie die woorde om te beskryf wat met hulle gebeur nie. Dit word uitgebuit deur geweldenaars,” meen Riana. Albei se kinders is nou in ander skole wat veel duurder is, maar waar daar oral kameras is om gebeure te monitor.

“En hulle is geregistreer,” voeg Riana by.

Haar seuntjie is nou vier. Die aanranding op hom het gebeur toe hy maar twee jaar oud was. Sy niggies en nefies was by dieselfde skooltjie.

“Ek het hulle beskou as vriende. Die kinders noem hulle Ouma en Oupa.” Hy was op die oog af gelukkig en sy en haar man het gedink hy is veilig.

Begin verlede jaar het sy gedrag begin verander. Hy het skielik in babataal begin praat.

“Hy het dit nooit gedoen nie,” vertel Riana. “Sy kosblikke het onaangeraak van die skool af teruggekom, hy het onrustig begin slaap, woedeuitbarstings gehad en skeidingsangs begin toon. Hy wou heeltyd by my wees, terwyl hy voorheen baie selfstandig gespeel het.”

Seksuele misbruik het nooit by haar opgekom nie, tot middel Februarie verlede jaar.

“Ek het op die bank gelê en hom bo-op my getel, my arms om hom gevou en gesê: ‘Oe, Mamma is lief vir jou.’ Hy het skielik seksuele bewegings gemaak. Toe ek hom vra wat hy doen, het hy gesê: ‘Ek maak babatjies.’ Al die grootmense in die sitkamer was stilgeskok.

Toe sy hom kamer toe vat en op ’n kas neersit, het hy begin dans. “Oupa trek ouma se rokkie aan en dan dans hy vir ons,” het die toe pas driejarige vertel.

Sy het op die radio gehoor van die steungroep vir kinders wat moontlik gemolesteer is, dieselfde plek wat Meegan-hulle bystaan.

Lees ook: Wat jy moet doen as jou kind gemolesteer is

Met ’n ondersoek is vasgestel daar is ’n skeurtjie agter by hom wat op penetrasie kan dui. Riana het hom toe al meer as ses weke uit die vorige skool gehaal en nuwe plek gekry.

“Dit spook by my dat ek my seuntjie daar gaan aflaai het en dit met hom gebeur het. Ek kan nie eens meer kyk in die rigting van die straat waarin daardie skool is nie,” vertel Riana.

Dis haar laatlammetjie. Sy broer is 19 jaar ouer as hy. Die vierjarige kan ook nog nie vertel presies wat met hom gebeur het nie en daarom is ’n saak nog nie by die polisie geopen nie. Riana glo met behandeling sal hy later daaroor kan praat en eendag alles verwerk.

Een van die tekens dat ’n kind dalk gemolesteer is, is ’n skielike angs vir ’n bepaalde mens.

Riana wys ’n foto op haar slimfoon. Haar seuntjie sit op die skoot van sy vermeende aanrander.

“Hoe kon ek nie die vrees in sy ogies gesien het nie?” vra Riana.

“Ek was ook nie daar om haar te beskerm nie. Ek verkwalik myself. En my pa ook,” vertel Meegan. “Sulke klein kindertjies is mos nie veronderstel om deur so iets te gaan nie . . . Dit kan ongelukkig met enigiemand gebeur.”

Lees ook: ‘Sit jou voet neer teen seksuele geweld,’ sê veertienjarige

Hulle wil nou ander ouers waarsku:?

  1. Maak seker die crèche is geregisteer by die departement van sosiale ontwikkeling.
  2. Vra vir die sertifikaat as bewys.
  3. Die departement van gesondheid moet ook die perseel besoek en ’n sertifikaat uitreik voor die dagsorgsentrum kinders inneem.

“Baie afgetredenes begin sulke skooltjies. Ek sal van nou af versigtig vir sulke plekke wees as die man heeldag alleen by die kinders is,” sê Riana.

Betaal eerder meer en maak seker jou kind is veilig.

Let fyn op vir skielike buierigheid, aggressie, angstigheid en ’n kind wat heeltyd aan jou klou.

Nog gevaartekens volgens die kundiges is:

  1. Regressie: Die kind verloor vaardighede wat hy of sy reeds aangeleer het.
  2. Veranderinge in eetpatroon.
  3. Skrik maklik en is oor die algemeen meer vreesagtig.
  4. Fisieke simptome soos hoof- of maagpyn sonder enige mediese verklaring.
  5. Onttrek van ander, verlies aan energie, stiller as gewoonlik.
  6. Aggressief teenoor gesinslede, speelgoed en troeteldiere.
  7. Obsessie met geslagsdele.
  8. Kennis van seksuele gedrag wat ontoepaslik is vir sy of haar ouderdom.
  9. Seksuele gedrag teenoor ander kinders.
  10. Angs met doek omruil.
  11. Ongemak wanneer hulle loop of sit.
  12. Herhaalde urienweg-infeksie.

Meld dit aan

Hier is die stappe wat jy te wagte kan wees wanneer jy die seksuele mishandeling van ’n kind moet aanmeld:

  1. Meld die voorval by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan.
  2. Die SAPD gaan die ouers dan na die plaaslike eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe verwys.
  3. ’n Beampte gaan die kind na ’n mediese wettige kliniek neem vir ’n forensiese verslag, die toedien van anti-retrovirale middels en ’n pil wat swangerskap voorkom indien nodig. Die polisie moet die kind ook vir berading verwys.
  4. As daar genoeg bewyse is, gaan die SAPD die saak na die Nasionale Vervolgingsgesag vir vervolging verwys en die oortreder gaan in hegtenis geneem word.
  5. Die skool moet dan ook rakende die voorval stappe doen.

Childline kan met bogenoemde proses help; hulle kan ook berading in jou gebied opspoor. Hul nasionale hulplyn is 08000-55-555 en hul webtuiste, www.childline.org.za, bied meer spesifieke telefoonnommers vir elke provinsie. Hulle kan ook help met die soek na ’n plek van veilige bewaring indien nodig.

*Skuilname.

Ekstra bronne: Lewis, S. 1999. The Adult’s Guide to Childhood Trauma; Understanding Traumatised Children in South Africa; District Mail Online; parents24.com