Die ontwerpers Dolce & Gabbana het onlangs hulde gebring aan moederskap deur ’n verwagtende mamma, die model Bianca Balti, in ’n pienk gewaad by die loopplank af te stuur met 11 mammas en hul kinders wat die agtergrond vorm.

Die modevertoning Maternity's bloom is toegejuig deur die gewoonlik selfbeheersde modegehoor en hul gehandeklap het veroorsaak dat een opgewonde kleinding sommer vir homself begin hande klap!

Die ontwerpers het volgende winter se mans- en vrouereekse opgedra aan ma’s sodat mense “mode kan sien as ’n verlenging van waarvandaan jy kom”, het die ontwerpers in ’n verklaring gesê. Vir die mansdrag-reeks, wat verlede maand vertoon is, het hul inspirasie by oumas gekry, en hierdie seisoen val die fokus op jong ma’s – ’n groep wat dalk nie genoeg aandag kry in ’n land met die laagste geboortesyfer in die Westerse wêreld nie. En hulle het dit beslis reggekry om moederskap aanloklik te laat lyk.

Die ontwerpers Domenico Dolce en Stefano Gabbana het eenvoudige ontwerpe vertoon, met uitklokrompe, oorvou-jasse, slooprokke en byderwetse mini’s en het van die handelsmerk se sensuele elemente, soos kant, blinkertjies en appliekwerk daarby ingewerk.

Hulle het hul niggies en nefies se tekeninge in ’n kleurvolle materiaal omskep vir uitklokrompe, moulose rokke en serpe met kinderlike skrif, waaronder “Jy is die mooiste mamma in die wêreld”.

Die ma-en-kind-modelle het ook ’n blik op die ontwerpers se kinderreeks gegee. ’n Stralende model in ’n blomromp en swart toppie met ’n rooi roos daarop – ’n herhalende motief – het haar wriemelende kleinding op die heup gedra.

Dié was geklee in ’n Dolce&Gabbana top en broek. Daar was ook ’n ma en dogter wat in bypassende pienk rokke by die loopplank afgestap het.

Die handsakke was groter as gewoonlik – ’n ma moet immers alles in haar sak saamdra. En modelle het versierde oorfone, wat die ontwerpers as ’n moderne kroon beskou, gedra. Die handelsmerk se tradisionele laaste vertoning het uit swart ontwerpe bestaan en onder meer mooi négligés ingesluit, want mammas het immers ’n bietjie ontspanning ook nodig.

SAPA