Legkaarte

Knip ’n mooi prent uit ’n tydskrif of druk een uit. As dit ’n prent is van iets waarin jou kind belangstel (soos ’n kar of vliegtuig), des te beter. Plak dit op ’n stuk karton. Trek legkaartvorms met ’n potlood daarop, knip dit uit, skommel dit deurmekaar en laat die kinders die legkaart bou. Pleks van ’n bestaande prent kan jy ook dat hulle ’n prent teken en daarvan ’n legkaart maak.

Kaartjie vir oupa

Maak ’n groetekaartjie met plakkers, blinkertjies, uitgeknipte tydskrif­foto’s of waarvan jou kind ook al hou. Dan kan hy ’n boodskappie vir die ontvanger binne-in skryf.

Iets grillerigs

Maak ’n bak vol sjlipsjlop, ’n geheimsinnige stof wat kinders in balletjies kan rol of van hul vingers kan laat afdrup. Giet 1 k water in ’n groot mengbak. Voeg ’n paar druppels voedselkleursel by. Meng 2 k mielieblom stadig by (eers met ’n lepel, maar later word dit makliker om dit met jou hande te doen).

Pret met T-hemde

Versier ou T-hemde met tekenprente en verf. Dra dit wanneer dit droog is.

4 dinge met maskeerband

* Pak ’n hinkspel-patroon (hopscotch in Engels).

* Bou ’n balanspaadjie waarop jou kind voetjie vir voetjie op die maat van musiek moet loop sonder om “af te val”. Laat hom ook agtertoe loop, of op sy tone – dis uitstekende oefening vir balans.

* Laat jou kind stukke maskeerband inkleur en ’n T-hemp daarmee versier.

* Gebruik die maskeerband om ’n vloerplan vir ’n pophuis neer te lê sodat jou kind haar eie pophuis kan ontwerp en meubels daarin kan sit.