Ons daaglikse vakansieblog is vol idees vir doendinge waarmee jy die kleingoed kan besig hou tot die skole heropen. Vandag skep ons ’n trein uit ’n ou skoenboks

Julle het nodig

  • Ou skoenboks
  • Verf
  • Oorskiet-geskenkpapier om die bokse mee oor te trek (opsioneel)
  • Papierbekertjie
  • Skêre of skerp handwerkmessie
  • Dun swart koki
  • Handwerkgom
  • 6 plastiekdeksels of swart papier wat in 6 sirkels gesny is vir die wiele
  • Deursigte houer met deksel, gevul met Smarties of Astro’s

Maak so

  1. Trek die skoenbokse oor of verf dit. As die boks ’n los deksel het, moet dit apart oorgetrek word sodat dit oop- en toegemaak kan word.
  2. Plak die wiele met handwerkgom aan die lang kante van die boks vas.
  3. Sny ’n deel van die oop kant van die papierbeker af sodat die beker 5-6 cm hoog is. Verf die beker.
  4. Teken met die koki ’n gesig op die boom van die beker. Julle kan ook ’n gesiggie van die internet aflaai, dit verklein en op die boom plak.
  5. Plak die beker aan een van die kort kante van die boks vas.
  6. Sit die houer met lekkers onderstebo op die boks neer om ’n prettige skoorsteen te vorm.

WENK Maak ’n uitlaatpyp van ou Lego-blokkies en plak dit met handwerkgom aan die ander kort kant van die boks vas.

BRON: HUISGENOOT-SPEEL