As jy dink jou kind is die skattigste, slimste kind wat daar is en jy sorg dat hulle dit weet, moet jy dalk briek aandraai met die lofprysinge en komplimente of jy maak dalk ’n narsis groot, meen die kenners.

’n Nuwe ondersoek deur Nederlandse navorsers toon voortdurende en soms ongegronde lofuitinge vir kinders se kleinste prestasies en optrede kan narsistiese gedrag later in die lewe aanmoedig. “Navorsing toon narsisme is algemener in Westerse lande as nie-Westerse lande en dui daarop dat vlakke van narsisme oor die afgelope paar dekades bestendig onder Westerse jeugdiges toegeneem het,” skryf die navorsers.

Die ondersoek toon ouerlike oorwaardering kan die verskil beteken tussen ’n kind met ’n gesonde selfbeed en ’n kind met grootheidswaan.

Terwyl narsisme ook in genetika lê, kan dit volgens sommige teorieë aangemoedig word deur ouers wat prys en liefde weerhou, en dat die kinders hul eie selfbeeld ’n hupstoot moet gee en in die proses arrogant word.

Maar die nuwe navorsing dui op ’n veel sterker verband tussen narsisme en ouers wat hul kinders as “die spesiaalste een” behandel.

Vir die ondersoek moes kinders en hul ouers twee keer per jaar vraelyste invul. Hulle is gepols oor of die kinders meer as ander kinders verdien, ’n goeie voorbeeld vir ander stel en of die ouers die kinders laat weet hulle is lief vir hulle.

Die ondersoek toon ouerlike oorwaardering kan die verskil beteken tussen ’n kind met ’n gesonde selfbeed en ’n kind met grootheidswaan.

“Narsistiese kinders voel verhef bo ander, glo hulle is op voorregte geregtig en smag na voortdurende bewondering van ander,” sê die ondersoekskrywer Eddie Brummelman.

Bronne: Forbes, New Scientist