“Liefste eggenoot, ek skryf hierdie brief aan jou uit liefde, nie uit vrees nie. Ek wou net ’n paar dingetjies vir jou uitwys voor jy hierdie naweek alleen aanpak . . . saam met die ander klomp,” lui die onheilspellende aanvang van Meghan Oeser se brief.

“Wanneer jy ná werk by die huis aankom, sal dinge nie so sleg lyk nie. Die ander klomp sal jou druk, spring, en oor die algemeen nogal opgewonde wees wanneer hulle jou sien. Dit gaan nie lank hou nie, ek belowe jou. Skooltyd of te nie; dit staan ook bekend as die uur van hel.”

In die brief, wat sedertdien soos ’n veldbrand versprei het, lig die ma haar man in dat die “aandete ’n misoes gaan wees. Bailey sal wil pizza hê, terwyl Harper worsbroodjies gaan vra, Quinn gaan huil as jy die woord ‘worsbroodjie’ sê en sal aandring op macaroni-en-kaas (maar nie die oranje soort nie en ook nie die wit soort nie; die pers soort). Die pers soort sal net mooi op wees, dus sal sy roosterbrood vra.

Jy het reeds begin om vir Penny die macaroni-en-kaas te maak, maar, aangesien sy gehoor het Quinn vra roosterbrood, sal sy dieselfde roosterbrood wil hê. Op die ou einde sal jy die macaroni-en-kaas uitsmyt, want Bailey het vyf jaar gelede maaggriep gekry nadat sy die oranje soort geëet het en Harper verkies die wit soort.

Jy sal ook van Harper vergeet, want haar vriendin Lily het “onverwags” daar aangekom, dus RipStik (‘n soort skaatsplank) hulle in die straat af. Almal sal graankos vir aandete eet en Lily sal inkom om ’n pleister te soek.”

Omdat sy vermoed hy sal teen hierdie tyd moontlik wil gaan sit, waarsku sy hom daarteen. “Dit gaan stil raak, doodstil. Jy sal dan besef die driejarige het iewers aan die slaap geraak. Moenie die driejarige laat slaap nie. Jy is basies gef** as dit gebeur. Sy gaan tot minstens 01:30 wakker wees as jy nie oppas nie. Siende dat jy gewoonlik om 09:30 gaan slaap en om 05:00 wakker word, is dit nie juis ideaal nie.”

Wat slaappakke betref?

“F** slaappakke,” skryf die ma. “Moenie eens probeer om vir Penny enigiets anders as ’n nagrok aan te trek nie. En as jy Penny nie in ’n nagrok kan kry nie, hou f***** aan met soek. Sy sal haar Minnie Muis-nagrok wil hê, maar nadat jy dit aangetrek het, sal sy gil van pyn, want die moue skeur duidelik haar f***** arms af. Kry net haar Elsa-een. Die kanse is goed dat dit k** vuil sal wees, maar wat daarvan? Sy is net so vuil. Ek kan nie onthou wanneer laas ek seep op daai een gebruik het nie.”

Dinge raak natuurlik beter teen ontbyt. “Ha! Net so prettig soos aandete . . . indien nie erger nie,” skryf sy voor sy hom aansê om seep te smeer, af te spoel en dit te herhaal. “Ek sien jou Sondag,” sluit sy die brief af. “O, en ook . . . net ingeval jy enigiets hierdie naweek gedoen sou wou kry . . . baie f***** sterkte.”

Lees die res van die brief hier onder: